SAGARIA 11:4-17

SAGARIA 11:4-17 NLV

Dit is wat die HERE my God sê: “Gaan en sorg vir ’n trop slagskape. Die kopers sal hulle skape slag sonder enige skuldgevoel. Die verkopers sal sê: ‘Prys die HERE, nou is ek ryk!’ Selfs die herders het geen meegevoel met hulle nie. Net so sal Ek ook nie meer meegevoel hê met die inwoners van die land nie,” sê die HERE. “Ek laat hulle in mekaar se kloue val en in die kloue van hulle koning. Hulle sal die land in ’n wildernis verander en Ek sal hulle nie red nie.” Ek het toe die skape wat bedoel is om geslag te word, opgepas – veral die onderdrukte skape. Ek het twee herderskieries gevat, die een het ek Guns en die ander een Eenheid genoem. In een maand het ek van drie slegte herders ontslae geraak. Ek het ongeduldig met die skape geword en hulle het ook vir my moeg geword. Ek sê toe vir hulle: “Ek wil nie meer julle herder wees nie. Dié wat wil doodgaan, moet doodgaan. Laat dié wat wegraak, wegraak. Laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” Ek het toe my herderskierie “Guns” gevat en dit middeldeur gebreek. Daarmee wou ek wys dat ek die verbond wat ek met al die nasies gehad het, verbreek. Dit was die einde van die ooreenkoms met hulle. Dié wat skape gekoop en verkoop het, het my dopgehou en geweet dat die HERE deur my handelinge met hulle gepraat het. Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink dit is reg, gee my my regmatige loon, maar net as julle wil.” Hulle het toe 30 stukke silwer as my loon afgetel. Die HERE het toe vir my gesê: “Gooi dit vir die pottebakker!” Dit was die buitengewone prys waarmee hulle my geëvalueer het! Ek het toe die 30 muntstukke geneem en dit in die tempel van die HERE vir die pottebakker gegooi. Toe breek ek my ander herderskierie, “Eenheid”, om daarmee te wys dat die verbond van eenheid tussen Juda en Israel verbreek was. Die HERE het vir my gesê: “Gaan weer en maak soos ’n nikswerd herder. Dit sal wys hoe Ek vir die nasie ’n herder sal gee wat nie omgee vir skape wat vergaan nie, wat nie die lammers gaan soek, of die beseerde skape versorg, of die gesonde skape kos gee nie. Inteendeel, hierdie herder sal die vleis van die vetste skaap eet en die ander se kloue afruk. “So ’n nikswerd herder wat sy trop verlaat, sal verseker veroordeel word! Mag die swaard sy arm afkap en sy regteroog deurboor! Sy arm sal onbruikbaar word en sy regteroog heeltemal blind!”