1 Kronieke 23

23
Die werk van die Leviete
1Dawid het oud geword, en toe sy lewe amper verby was, het hy sy seun Salomo koning gemaak oor Israel. 2Hy het al die amptenare van Israel, en die priesters en Leviete laat bymekaarkom. 3Hulle het die Leviete getel, die mans wat 30 jaar en ouer was. Daar was 38 000 Leviete. 4Van daardie Leviete moes 24 000 die werk in die tempel doen, en 6 000 moes voormanne en regters wees. 5Daar was 4 000 poortwagte, en 4 000 Leviete moes die Here prys met die musiek-instrumente wat hulle daarvoor gemaak het. 6Dawid het die Levi-familie in drie groepe verdeel en laat werk. Hulle was die Gerson-familie, die Kehat-familie en die Merari-familie. 7Ladan en Simi was van die Gerson-familie. 8Ladan het drie seuns gehad, hulle was Jegiël, Setam en Joël. Jegiël was hulle hoof. 9Simi se drie seuns was Selomit, Gasiël en Haran. 10Simi het later nog vier seuns gehad, hulle was Jagat, Sina, Jeüs en Beria. 11Jagat was hulle hoof, en Sisa was die onder-hoof. Jeüs en Beria het nie baie seuns gehad nie, en hulle was saam een familie-groep.
12Kehat het vier seuns gehad, hulle was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. 13Amram se seuns was Aäron en Moses. Aäron moes werk met die hoog-gewyde dinge en hy moes sorg dat dit altyd gewyd is, hy en sy nageslag, vir altyd. Hulle moes altyd wierook-offers vir die Here bring, hulle moes vir Hom werk en vir die volk sê dat die Here hulle sal seën. 14Moses was die man van God. Moses en sy nageslag was van die Levi-stam. 15Moses se seuns was Gersom en Eliëser. 16 Sebuel was die hoof van die Gersom-familie. 17Regabja was die hoof van die Eliëser-familie. Eliëser het nie ander seuns gehad nie, maar Regabja het baie seuns gehad. 18Selomit was die hoof van die Jishar-familie. 19Jerija was die hoof van die Hebron-familie. Amarja was die tweede seun, Jagasiël was die derde en Jekamam was die vierde seun. 20Miga was die hoof van die Ussiël-familie en Jissija was die onder-hoof.
21Merari se seuns was Magli en Musi. Magli se seuns was Eleasar en Kis. 22Toe Eleasar gesterf het, het hy nie seuns gehad nie, hy het net dogters gehad. Die dogters het getrou met mans van die Kis-familie, die mans was hulle eie familie. 23Musi het drie seuns gehad, hulle name was Magli, Eder en Jeremot.
24Dit was die Levi-families, die familiehoofde en hulle groepe. Elkeen se naam is in 'n naamlys geskryf. Die Leviete wat 20 jaar en ouer was, moes die werk in die tempel doen. 25Hulle moes dit doen omdat Dawid gesê het: “Die Here, die God van Israel, het sy volk laat rus en Hy wil altyd in Jerusalem woon. 26Daarom moet die Leviete nie meer die tempel-tent en al die gereedskap vir die werk daarin dra nie.”
27Dit was al die Leviete wat 20 jaar en ouer was. Dawid het 'n kort tydjie voordat hy gesterf het, gesê hulle moet hierdie werk doen: 28Hulle moes die priesters help wanneer die priesters in die tempel werk of op die oop stukke grond of in die kamers, en wanneer die priesters al die gewyde dinge reinig en die werk in die tempel doen. 29Die Leviete moes ook help om die offer-brood en die meel vir die koring-offer gereed te maak. Hulle moes die ongesuurde brood bak, die bakplaat skoonmaak, die deeg meng en kyk dat die mense reg weeg en meet. 30Die Leviete moes elke oggend gereed wees om vir die Here dankie te sê en Hom te prys. Hulle moes dit ook elke aand doen. 31Hulle moes help wanneer die priesters vir die Here brand-offers bring op Sabbatdae, op Nuwemaan-feeste en op ander feeste. Daar moes altyd genoeg Leviete wees om te help werk by die tempel. 32So moes die Leviete help werk by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het, by die gewyde plek. Dit was die werk wat hulle familie, die nageslag van Aäron, by die tempel moes doen.

Tans Gekies:

1 Kronieke 23: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan