1 Kronieke 24

24
Die priester-families
1Die nageslag van Aäron moes vier familie-groepe gewees het, want Aäron se vier seuns was Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. 2Maar Nadab en Abihu het gesterf toe hulle pa nog gelewe het en hulle het nie seuns gehad nie. Daarom was net Eleasar en Itamar die hoofde van priester-families. 3Sadok van die Eleasar-familie en Agimelek van die Itamar-familie het vir Dawid gehelp om die priesters in groepe te verdeel om hulle werk te doen. 4Toe hulle sien dat daar in die Eleasar-familie meer mans is wat hoofde kan wees as in die Itamar-familie, het hulle die Eleasar-familie verdeel in 16 groepe en die Itamar-familie in ag groepe. Elke groep het 'n familiehoof gehad. 5Hulle het lootjies getrek om die families te verdeel sodat daar priesterleiers van altwee families kon wees wat vir God in die tempel werk. 6Die sekretaris was Semaja seun van Netanel. Hy was 'n Leviet en hy het die priesters se name opgeskryf. Hy het elke maal twee familiehoofde vir Eleasar opgeskryf en een familiehoof vir Itamar. Die koning was ook daar, en ook die amptenare, die priester Sadok, Agimelek seun van Abjatar, en die familiehoofde van die priesters en die Leviete. 7Toe hulle lootjies getrek het, was Jojarib eerste, Jedaja was tweede, 8Garim derde, Seorim vierde, 9Malkija vyfde, Mijamin sesde, 10Kos sewende, Abia agste, 11Jesua negende, Sekanja tiende, 12Eljasib elfde, Jakim twaalfde, 13Guppa dertiende, Jesebab veertiende, 14Bilga vyftiende, Immer sestiende, 15Gesir sewentiende, Pisses agtiende, 16Petagja negentiende, Esegiël twintigste, 17Jakin een-en-twintigste, Gamul twee-en-twintigste, 18Delaja drie-en-twintigste en Maäsja was vier-en-twintigste. 19Dit was die groepe wat by die tempel moes kom werk. Hulle voorvader Aäron het gesê hoe hulle dit moet doen. Die Here, die God van Israel, het gesê Aäron moet dit doen.
Die familiehoofde van die ander Leviete
20Die familiehoofde van die ander Leviete was: Subael van die Amram-familie, Jegdeja van die Subael-familie, 21Jissija van die Regabja-familie, 22Selomit van die Jishar-familie, Jagat van die Selomit-familie, 23en Jerija, Amarja, Jagasiël en Jekamam. Hulle vier was van die Hebron-familie. 24Miga van die Ussiël-familie en Samir van die Miga-familie was ook familiehoofde, 25ook Jissija broer van Miga, en Sagaria van die Jissija-familie. 26Magli en Musi was seuns van Merari. 'n Seun van Merari, Jaäsija, 27was die hoof van die Merari-familie. Soham, Sakkur en Ibri was hoofde van die Jaäsija-familie. 28Eleasar was die hoof van die Magli-familie, maar hy self het nie seuns gehad nie. 29Jeragmeël was die hoof van die Kis-familie. 30Magli, Eder en Jerimot was die hoofde van die Musi-familie. Dit was die Levi-families. 31Hulle het ook lootjies getrek soos die ander Leviete, die nageslag van Aäron. Koning Dawid, Sadok, Agimelek, en die familiehoofde van die priesters en die Leviete was ook daar. Hulle het lootjies getrek vir al die families, vir die grootmense en vir die kinders.

Tans Gekies:

1 Kronieke 24: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan