Daniël 4:1-18

Daniël 4:1-18 ABA

Koning Nebukadnesar het 'n brief geskryf vir al die mense op die hele aarde. Hy het geskryf: “Ek hoop dit gaan baie goed met julle! Ek wil graag vir julle vertel wat met my gebeur het. Die Hoogste God het tekens en wonderwerke gedoen. Sy tekens en wonderwerke is groot en wonderlik. Hy sal altyd Koning wees, Hy sal altyd regeer. “Ek, Nebukadnesar, het lekker in my huis gewoon, en dit het goed gegaan met my. Maar toe het ek gedroom en ek het iets gesien toe ek gedroom het. Ek het groot geskrik. Ek het gesê al die wyse mense van Babel moet hier by my bymekaarkom en vir my sê wat die droom beteken. Al die slim mense het gekom, en ek het vir hulle gesê wat ek gedroom het, maar hulle kon nie vir my sê wat die droom beteken nie. Toe het Daniël gekom, sy ander naam is Beltsassar. Dit is ook die naam van my god. Dit is die heilige gode wat vir Daniël help, daarom is hy baie slim. Ek het vir hom vertel wat ek gedroom het. “Ek het gesê: ‘Beltsassar, jy is die hoof van die slim mense. Ek weet die heilige gode help jou, en jy weet dinge wat ander mense nie weet nie. Sê vir my wat beteken my droom. Wat beteken die ding wat ek gesien het toe ek gedroom het? Ek het geslaap, en toe sien ek daar staan 'n boom in die middel van die aarde. Die boom was baie hoog. Dit het baie groot en sterk geword, so groot dat dit aan die hemel geraak het. Al die mense op al die plekke kon die boom sien. Die boom het mooi blare en baie vrugte gehad. Almal kon van sy vrugte eet. Die diere het onder die boom kom lê, en die voëls het in sy takke gewoon. Die boom se vrugte was kos vir al die mense en die diere. “ ‘Ek het geslaap en gedroom daar kom 'n heilige engel uit die hemel. Die engel het hard gepraat en gesê: “Kap af die boom, sny af sy takke, skud af sy blare, gooi sy vrugte oral rond. Die diere onder die boom moet wegvlug, en die voëls moet wegvlug uit sy takke. Maar moenie die boom se stam uithaal nie, laat staan dit in die grond. Sit 'n band van yster en brons om die stam en laat die stam tussen die gras staan. Die dou uit die lug moet die stam natmaak. Nebukadnesar moet wilde plante eet soos die diere. Sy verstand moet verander, dit moet sewe jaar lank soos 'n dier se verstand word. Dit het die heilige engele gesê, en dit sal gebeur. Dan sal almal wat lewe, weet dit is God, die Hoogste God, wat besluit wie koning sal wees. Hy kan enige mens kies en hom koning maak, ook die onbelangrikste mens.” “ ‘Dit is die droom wat ek, Nebukadnesar, gehad het, en jy, Beltsassar, moet vir my sê wat die droom beteken. Al die wyse mense in my land kan nie vir my sê wat dit beteken nie, maar jy kan, want dit is die heilige gode wat jou help.’ ”