Met wie moet ek praat, wie sal na my luister
wanneer ek hom waarsku?
Die mense van Jerusalem wil nie hoor
wat ek sê nie, hulle wil nie luister nie.
Hulle hou nie van die woorde van die Here nie,
hulle spot met sy woorde.
Maar ek moet vir hulle sê
die Here is kwaad, ek kan nie stilbly nie.
Die Here het gesê: “Praat
met die kinders in die strate,
en met die jongmanne
waar hulle bymekaar is.
Praat met mans en vroue
en met oumense,
ook met die oumense wat baie oud is.
Ander mense sal hulle huise kom vat,
en ook hulle grond en hulle vroue.
Ja, Ek wil die mense van Jerusalem straf,
want almal, kinders en grootmense,
wil ryk word van ander mense se goed.
Die profete en priesters bedrieg my volk,
want hulle dink hulle kan alles regmaak
wanneer hulle sê: ‘Daar is vrede, daar is vrede.’
Maar daar is nie vrede nie.
Hulle het slegte dinge gedoen wat Ek haat,
maar hulle het nie skaam geword nie,
hulle is nie jammer nie.
Daarom sal hulle ook sterf in die oorlog.
Ek sal hulle straf, en hulle sal sterf.”
Dit het die Here gesê. Die Here het gesê:
“Wanneer julle sien daar is
meer as een pad waar julle kan loop,
en julle vra waar die ou paaie is,
dan moet julle die regte pad kies
en daarop loop.
Dan sal dit goed gaan met julle.
Maar die mense van Jerusalem het gesê:
‘Nee, ons sal nie op daardie pad loop nie.’
En wanneer Ek mense vir julle laat wagstaan,
dan moet julle luister
wanneer die ramshoring blaas.
Maar die mense van Jerusalem het gesê:
‘Nee, ons sal nie luister nie.’
Daarom, volke, julle moet luister,
en julle, my volk wat tussen die ander volke is,
julle moet weet,
en almal in die land,
julle moet luister:
Ek sal nou hierdie volk straf.
Hulle het planne gemaak
om slegte dinge te doen,
en nou sal slegte dinge met hulle gebeur,
want hulle het nie geluister
na wat Ek gesê het nie.
Hulle het gedink die dinge
wat Ek vir hulle leer, is nie belangrik nie.
Julle bring vir My wierook uit die land Skeba,
julle bring kalmoes uit 'n ver land,
maar dit beteken vir My niks.
Ek hou nie van julle brand-offers nie,
Ek wil nie offers van julle hê nie.”
Daarom, die Here sê:
“Ek sal nou dinge laat gebeur
wat hierdie volk sal laat sterf.
Pa en seun, buurman en vriend
sal saam sterf.”
Die Here sê:
“Daar sal nou 'n volk kom
uit 'n land in die noorde.
Dit is 'n groot volk
wat uit 'n ver land sal kom.
Elkeen het 'n pyl en boog
en 'n spies in sy hand.
Hulle is wrede mense,
hulle is vir niemand jammer nie.
Wanneer hulle skree,
dan is dit soos die see wat hard raas.
Hulle ry op perde en hulle is gereed
om oorlog te maak
teen julle, mense van Sion.”
Die mense van Jerusalem het gesê:
“Toe ons hoor hierdie vyande kom,
het ons groot geskrik,
ons was so bang
soos 'n vrou voor sy 'n baba kry.
Julle moenie uitgaan uit die stad nie,
julle moenie op die paaie loop nie,
want die vyande kom met hulle swaarde,
en hulle sal oral wees.
My volk, julle moet rouklere aantrek en op die ashoop rondrol.
Julle moet huil en treur soos mense treur
wanneer hulle enigste kind gesterf het.
Julle moet rou, want die vyande kom vinnig,
en hulle sal alles verwoes.”
Die Here het vir my gesê:
“Ek het jou gestuur om my volk te toets
soos 'n mens metaal smelt en toets,
Ek het jou sterk gemaak sodat jy sal kyk
wat hulle doen en sodat jy hulle sal toets.
Hulle is almal hardkoppige en opstandige mense
wat sleg praat van ander mense.
Hulle is oneerlik wanneer hulle moet oordeel.
Hulle is so hard soos brons en yster.
Wanneer die blaasbalk die vuur warm blaas,
dan moet die lood uitsmelt,
maar dit gebeur nie met my volk nie,
die slegte metaal smelt nie uit nie.
Hierdie volk is soos silwer
wat 'n mens moet weggooi.
Die mense sê hulle is so,
want die Here het hulle weggegooi.”