Jesus en sy dissipels het naby Jerusalem gekom, by twee dorpies op die Olyf-berg: Betfage en Betanië. Toe hulle daar kom, stuur Jesus twee van sy dissipels en Hy sê vir hulle: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle 'n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit 'n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hiernatoe. Wanneer iemand vir julle vra hoekom julle dit doen, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik, maar Hy sal hom gou weer hiernatoe terugstuur.” Die twee dissipels het gegaan en hulle het buite in die straat 'n jong donkie gekry wat vasgemaak was by 'n deur. Hulle het die donkie losgemaak. Party van die mense wat daar gestaan het, vra toe vir hulle: “Wat doen julle? Hoekom maak julle die donkie los?” Die dissipels het die mense geantwoord soos Jesus gesê het, en die mense het hulle nie gekeer nie. Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe en hulle gooi van hulle klere oor die donkie. Jesus het op die donkie gaan sit. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi. Ander mense het takke afgekap van die bome in die veld en hulle het dit in die pad gegooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en die ander mense wat Hom gevolg het, het aangehou om hard te skree en te sê: “ Prys God! Prys die Man wat kom! Die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen! Prys Hom! Hy sal nou begin om Koning te wees oor almal, soos ons voorvader Dawid! Prys God in die hoogste hemel!” Jesus het in Jerusalem na die tempel-gronde gegaan. Hy het daar rondgekyk na alles. Daarna het Jesus en sy twaalf dissipels na Betanië gegaan, want dit was al laat. Die volgende dag het Jesus en sy dissipels uit Betanië gegaan. Jesus het honger geword en Hy het 'n vyeboom gesien wat vol blare was. Die boom was ver en Hy het daarnatoe gegaan om te sien of daar iets aan die boom was om te eet. Toe Hy daar kom, sien Hy daar is niks, net blare. Dit was nie die regte tyd vir vye nie. Jesus sê toe vir die boom: “Niemand sal weer 'n vy van jou eet nie, nooit nie.” Sy dissipels het gehoor wat Hy gesê het. Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gegaan. Hy het na die tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te verkoop en te koop. Jesus het hulle uitgejaag. Hy het die tafels omgegooi van die mense wat die geld omgeruil het en ook die stoele van die mense wat duiwe verkoop het. Hy het gesê niemand mag iets dra oor die tempel-gronde nie. Jesus het begin om vir die mense te leer en Hy het gesê in die Ou Testament is geskryf: “God het gesê: Die mense sal sê my tempel is 'n plek waar al die volke mag bid. Maar julle het dit verander, dit is nou 'n plek waar diewe bymekaarkom.” Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het gehoor wat gebeur het. Hulle wou 'n plan maak om Jesus dood te maak. Maar hulle was bang vir Hom, want die mense het baie gehou van wat Jesus vir hulle geleer het. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels weer uit die stad gegaan.
Lees Markus 11
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 11:1-19
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's