Spreuke 11:1-15

Spreuke 11:1-15 ABA

Die Here haat 'n weegskaal wat nie reg weeg nie, Hy hou van gewigte wat presies reg weeg. Mense sal 'n hoogmoedige mens maklik verneder, wyse mense is nederig. Eerlike mense hou aan om reg te lewe, mense wat ontrou is, sterf omdat hulle skelm is. Wanneer die Here kwaad is vir jou, dan help dit nie dat jy ryk is nie, maar wanneer jy reg lewe, dan sal dit jou lewe red. Die pad van eerlike mense is gelyk, want hulle doen reg. 'n Mens wat verkeerd doen, sterf omdat hy verkeerd doen. Mense wat reg lewe, sal aanhou lewe, want hulle doen reg, maar die dinge wat ontrou mense graag wil hê, vang daardie mense. Wanneer die mens wat verkeerd doen, sterf, dan sterf alles wat hy gehoop het, saam met hom, slegte mense kan nie hoop dat dit later goed sal gaan nie. Wanneer dit sleg gaan met 'n mens wat reg lewe, dan red die Here hom, en dan laat Hy dit sleg gaan met die mens wat verkeerd doen. 'n Mens wat nie die Here dien nie, praat sleg oor ander mense, hy wil hulle laat sterf, maar mense wat reg doen, weet hoe hulle moet lewe, en hulle hou aan om te lewe. Die mense in 'n stad is bly wanneer dit goed gaan met die mense wat reg doen, en hulle juig wanneer die mense sterf wat verkeerd doen. Dit gaan goed in 'n stad wanneer die Here die mense seën wat reg lewe, maar wanneer mense verkeerd doen, dan gaan dit sleg in 'n stad. Dit is 'n onverstandige mens wat sê dat 'n ander mens nie belangrik is nie, 'n verstandige mens sê niks. Iemand wat skinder, sê dinge wat ander mense nie moet weet nie, iemand vir wie jy kan glo, praat nie oor die dinge waaroor 'n mens moet stilbly nie. 'n Volk sal 'n oorlog verloor wanneer mense nie goed dink voordat hulle die oorlog begin nie, maar wanneer daar baie raadgewers is, dan sal hulle wen. Dit sal sleg gaan met 'n persoon wat borg staan vir iemand, 'n persoon wat nie wil borg staan nie, is veilig.