SPREUKE 11:1-15
SPREUKE 11:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Die Here haat 'n weegskaal wat nie reg weeg nie, Hy hou van gewigte wat presies reg weeg. Mense sal 'n hoogmoedige mens maklik verneder, wyse mense is nederig. Eerlike mense hou aan om reg te lewe, mense wat ontrou is, sterf omdat hulle skelm is. Wanneer die Here kwaad is vir jou, dan help dit nie dat jy ryk is nie, maar wanneer jy reg lewe, dan sal dit jou lewe red. Die pad van eerlike mense is gelyk, want hulle doen reg. 'n Mens wat verkeerd doen, sterf omdat hy verkeerd doen. Mense wat reg lewe, sal aanhou lewe, want hulle doen reg, maar die dinge wat ontrou mense graag wil hê, vang daardie mense. Wanneer die mens wat verkeerd doen, sterf, dan sterf alles wat hy gehoop het, saam met hom, slegte mense kan nie hoop dat dit later goed sal gaan nie. Wanneer dit sleg gaan met 'n mens wat reg lewe, dan red die Here hom, en dan laat Hy dit sleg gaan met die mens wat verkeerd doen. 'n Mens wat nie die Here dien nie, praat sleg oor ander mense, hy wil hulle laat sterf, maar mense wat reg doen, weet hoe hulle moet lewe, en hulle hou aan om te lewe. Die mense in 'n stad is bly wanneer dit goed gaan met die mense wat reg doen, en hulle juig wanneer die mense sterf wat verkeerd doen. Dit gaan goed in 'n stad wanneer die Here die mense seën wat reg lewe, maar wanneer mense verkeerd doen, dan gaan dit sleg in 'n stad. Dit is 'n onverstandige mens wat sê dat 'n ander mens nie belangrik is nie, 'n verstandige mens sê niks. Iemand wat skinder, sê dinge wat ander mense nie moet weet nie, iemand vir wie jy kan glo, praat nie oor die dinge waaroor 'n mens moet stilbly nie. 'n Volk sal 'n oorlog verloor wanneer mense nie goed dink voordat hulle die oorlog begin nie, maar wanneer daar baie raadgewers is, dan sal hulle wen. Dit sal sleg gaan met 'n persoon wat borg staan vir iemand, 'n persoon wat nie wil borg staan nie, is veilig.
SPREUKE 11:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N VALSE weegskaal is vir die HERE 'n gruwel, maar in 'n volle gewig het Hy behae. Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid. Die regskapenheid van die opregtes is vir hulle 'n leier, maar die valsheid van die ontroues vernietig hulle. Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood. Die geregtigheid van die regskapene maak sy weg gelyk, maar die goddelose val deur sy goddeloosheid. Die geregtigheid van die opregtes red hulle, maar deur hulle eie begeerlikheid word die ontroues gevang. By die dood van 'n goddelose mens gaan sy hoop tot niet, en die verwagting van die roekelose het vergaan. Word die regverdige uit die benoudheid gered, dan kom die goddelose in sy plek. Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered. Oor die voorspoed van die regverdiges jubel 'n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel. Deur die seën van die opregtes kom 'n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek. Die verstandelose verag sy naaste, maar 'n verstandige man bly stil. Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek 'n saak. As daar nie goeie oorleg is nie, val 'n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding. Baie sleg word iemand behandel as hy vir 'n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig.
SPREUKE 11:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg. Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid. Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang. Rykdom baat nie wanneer die Here straf nie; om te lewe volgens sy wil, red van die dood. Die gehoorsaamheid van die opregte maak sy pad gelyk; wie verkeerd doen, kom daardeur tot 'n val. Die betroubaarheid van eerlike mense red hulle; onbetroubare mense word deur hulle hebsug gevang. Wanneer 'n slegte mens sterf, verdwyn alle hoop, selfs die verwagting wat op mag gebou is. Die regverdige word uit sy nood bevry, en dié nood tref die goddelose. 'n Godlose mens laat 'n ander te gronde gaan met wat hy sê; mense wat aan God gehoorsaam is, word deur hulle kennis gered. 'n Stad juig oor die voorspoed van regverdiges en jubel wanneer die goddeloses te gronde gaan. 'n Stad kry 'n goeie naam wanneer opregte mense dit prys, maar dit word afgebreek deur wat goddelose mense daarvan sê. 'n Onverstandige mens praat met minagting van 'n ander; 'n verstandige mens swyg. Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; 'n betroubare mens bewaar 'n geheim. Sonder oorwoë leiding val 'n volk; die redding lê in baie raadgewers. Dit gaan sleg met hom wat vir iemand borg staan; die man wat weier om borg te staan, is veilig.
SPREUKE 11:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Vals weegskaal is vir die HERE afstootlik, maar 'n egte gewig geniet sy goedkeuring. As verwaandheid kom, kom skande, maar by beskeie mense is daar wysheid. Die onkreukbaarheid van opregtes lei hulle, maar die verdorwenheid van verraderlikes vernietig hulle. Rykdom baat niks in 'n tyd van gramskap nie, maar regverdigheid red van die dood. Die regverdigheid van dié wat onberispelik is, maak sy pad gelyk, maar deur sy goddeloosheid val 'n goddelose. Die regverdigheid van opregtes red hulle, maar deur die wispelturigheid van verraderlikes word hulle self gevang. By die dood van 'n goddelose is sy hoop daarmee heen, en die verwagting wat rykdom bied, verlore. Die regverdige word uit nood bevry, en 'n goddelose neem dan sy plek in. Met die mond vernietig 'n ongelowige sy medemens, maar deur kennis word regverdiges bevry. Oor die voorspoed van regverdiges is 'n dorp verheug, en wanneer goddeloses ten gronde gaan, is daar jubelkrete. Deur die seën van opregtes bereik 'n dorp hoogtes, maar deur die mond van goddeloses word dit afgebreek. Wie sy naaste verkleineer, is sonder verstand, maar iemand met insig bly stil. Wie as 'n skindertong rondgaan, openbaar geheime, maar 'n betroubare persoon hou die saak verborge. Sonder leierskap val 'n volk, maar oorwinning lê by baie raadgewers. Iemand sal beslis skade ly wanneer hy vir 'n vreemde borg staan; wie 'n weersin het in die gee van handdrukke, is veilig.
SPREUKE 11:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Valse weegskaal is vir die HERE 'n gruwel, maar 'n regverdige gewig is sy behae. Wanneer hoogmoed kom, dan kom skande, maar by die geringes is wysheid. Die opregtheid van die opregtes sal hulle lei, maar die verkeerdheid van die oortreders sal hulle vernietig. Rykdom baat nie op die dag van toorn nie, maar geregtigheid red van die dood. Die geregtigheid van die volmaakte sal sy weg gelyk maak, maar die goddelose sal deur sy eie boosheid val. Die geregtigheid van die opregtes sal hulle red, maar oortreders sal in hulle eie stoutheid gevang word. Wanneer 'n goddelose sterf, vergaan sy verwagting, en die hoop van onregverdiges vergaan. Die regverdige word uit benoudheid gered, en die goddelose kom in sy plek. 'n Geveinsde met sy mond vernietig sy naaste, maar deur kennis sal die regverdige gered word. As dit met die regverdiges goed gaan, is die stad bly; en as die goddelose omkom, is daar gejuig. Deur die seën van die opregtes word die stad verhef, maar deur die mond van die goddelose word dit omgekeer. Wie wysheidloos is, verag sy naaste, maar 'n man van verstand swyg. 'n Beswaardeer maak geheime bekend, maar hy wat getrou is van gees, verberg die saak. Waar geen raad is nie, val die volk; maar in die menigte van raadgewers is daar veiligheid. Hy wat borg is vir 'n vreemdeling, sal daarvoor slim wees; en hy wat borg haat, is seker.
SPREUKE 11:1-15 Die Boodskap (DB)
Dit walg die Here wanneer besigheidsmense oneerlik is, wanneer produkte swak en pryse buitensporig is. Eerlike transaksies maak Hom gelukkig. Mense wat dink hulle is beter as ander, word uiteindelik verneder. Mense wat nie so baie van hulleself dink nie, verstaan die kuns van die lewe. Vir mense wat die Here baie liefhet, is die lewe makliker. Hulle wat Hom nie ken nie, word deur valshede verwoes. Baie geld help maar min wanneer probleme jou oorval. Wie die Here ken, word van die dood gered. ’n Gelowige vir wie die Here ’n werklikheid is, leef reg. Slegte mense se verkeerde dade verwoes hulle. ’n Gelowige se verhouding met die Here help hom om krisisse te oorleef. Ongelowiges is die gevangenes van hulle eie begeertes. Wanneer ’n ongelowige doodgaan, sterf hy sonder enige hoop; al die drome en verwagtings wat hy lewenslank gekoester het, is dadelik daarmee heen. Hulle wat die Here ken, word in moeilike tye gehelp. Ongelowiges raak net meer en meer in hulle probleme verstrik. ’n Ongelowige verwoes ander met sy woorde. ’n Gelowige wat die lewe ken, se woorde help ander wat in die moeilikheid is. As dit met die gelowige goed gaan, is almal baie bly. As ’n slegte mens doodgaan, klink daar oral uitroepe van blydskap op. Wanneer die Here ’n gelowige voorspoedig maak, trek baie mense voordeel uit sy rykdom. ’n Slegte mens se woorde en dade kan ’n hele gemeenskap laat ly. Iemand wat ’n vriend in die openbaar verneder, is ’n hartelose mens. Iemand met ’n fyn aanvoeling vir ander sal eerder swyg. Iemand wat skinderstories loop en versprei, lap ander se geheime uit. ’n Man met integriteit hou ’n geheim vir homself. Waar kennis van die lewe ontbreek, gaan ’n volk onder. ’n Goeie regering se krag lê in sy kundige leiers. Iemand wat sommerso vir ’n vreemde borg staan, kan finansieel swaarkry. Hy wat dit haat om borg te staan, se geld is veilig in die bank.
SPREUKE 11:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE haat ’n skaal wat nie reg weeg nie. ’n Akkurate lesing dra sy goedkeuring weg. Verwaandheid bring vernedering. Nederigheid bring wysheid. Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang. Rykdom gaan niks help op die dag van oordeel nie. Om reg te lewe sal jou red van die dood. Die gehoorsaamheid van die opregte maak sy pad gelyk. Die goddelose sal deur sy goddeloosheid inmekaarstort. Die betroubaarheid van eerlike mense sal hulle red. Onbetroubare mense se eie gierigheid sal hulle inhaal. ’n Slegte mens gaan dood saam met alles wat hy begeer het. Sy verwagtings was net op sy eie mag gebou. God bevry die regverdige uit sy nood; Hy laat goddeloses in daardie nood verval. Goddeloses vernietig mense met hulle woorde. Dié wat reg lewe, word deur hulle kennis gered. ’n Stad juig oor die voorspoed van die regverdiges. Dit jubel as goddelose mense te gronde gaan. As opregte mense ’n stad prys, bring dit voorspoed vir die stad. Die woorde van goddeloses laat dit agteruitgaan. Om neerhalend van ander te praat, getuig van dwaasheid. ’n Verstandige mens sal eerder stilbly. ’n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime. Sonder goeie leiding stort ’n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê. Dit is gevaarlik om vir ’n vreemdeling borg te staan; dit is veiliger om daarvoor nee te sê.