Spreuke 11

11
1 'n Vals weegskaal
is vir die Here afstootlik,
maar 'n egte gewig
geniet sy goedkeuring.
2 As verwaandheid kom,
kom skande,
maar by beskeie mense
is daar wysheid.
3 Die onkreukbaarheid
van opregtes lei hulle,
maar die verdorwenheid
van verraderlikes vernietig hulle.
4 Rykdom baat niks
in 'n tyd van gramskap nie,
maar regverdigheid red van die dood.
5 Die regverdigheid van dié
wat onberispelik is,
maak sy pad gelyk,
maar deur sy goddeloosheid
val 'n goddelose.
6 Die regverdigheid van opregtes
red hulle,
maar deur die wispelturigheid
van verraderlikes
word hulle self gevang.
7 By die dood van 'n goddelose
is sy hoop daarmee heen,
en die verwagting wat rykdom bied,
verlore.
8 Die regverdige
word uit nood bevry,
en 'n goddelose neem dan sy plek in.
9 Met die mond vernietig
'n ongelowige sy medemens,
maar deur kennis
word regverdiges bevry.
10 Oor die voorspoed van
regverdiges is 'n dorp verheug,
en wanneer goddeloses ten gronde
gaan, is daar jubelkrete.
11 Deur die seën van opregtes
bereik 'n dorp hoogtes,
maar deur die mond van goddeloses
word dit afgebreek.
12 Wie sy naaste verkleineer,
is sonder verstand,
maar iemand met insig bly stil.
13 Wie as 'n skindertong rondgaan,
openbaar geheime,
maar 'n betroubare persoon
hou die saak verborge.
14 Sonder leierskap val 'n volk,
maar oorwinning
lê by baie raadgewers.
15 Iemand sal beslis skade ly
wanneer hy vir 'n vreemde
borg staan;
wie 'n weersin het in die gee
van handdrukke, is veilig.
16 'n Bekoorlike vrou palm eer in,
maar geweldenaars palm rykdom in.
17 Wie troue liefde betoon,
doen goed aan homself;
'n hartelose mens stort homself
in die ongeluk.
18 'n Goddelose maak bedrieglike wins,
maar wie geregtigheid saai,
kry 'n egte beloning.
19Egte regverdigheid
is gerig op die lewe,
maar wie kwaad najaag,
stuur af op sy dood.
20 Mense met geslepe harte
is vir die Here afstootlik,
maar dié met 'n onbesproke
lewenspad geniet sy goedkeuring.
21 Dit staan vas:
Kwaad bly nie ongestraf nie,
maar die nakomelinge
van regverdiges kom vry.
22 'n Goue ring aan 'n vark se snoet –
so is 'n vrou wat mooi is,
maar goeie oordeel prysgee.
23 Wat regverdiges begeer,
strek net ten goede,
maar die hoop van goddeloses
bring gramskap.
24 Daar is iemand wat uitdeel,
en hy verkry steeds meer,
en een wat meer as wat nodig is,
terughou –
net om gebrek te ly.
25'n Gulhartige persoon
geniet oorvloed,
en wie 'n ander se dors les,
kry self ook genoeg te drinke.
26 Wie graan terughou –
die mense vervloek hom,
maar seën rus op die kop
van iemand wat koring
te koop aanbied.
27 Wie die goeie voor oë het,
soek aanvaarding,
maar wie kwaad nastreef –
dit haal hom in.
28 Wie op sy rykdom vertrou,
val self,
maar soos groen blare
spruit regverdiges uit.
29 Wie rampspoed oor sy huis
bring, erf wind,
en 'n sot word die slaaf
van 'n verstandige mens.
30 Die vrug van 'n regverdige
is 'n boom van lewe,
maar geweld neem lewens weg.
31 As 'n regverdige op aarde
vergeld word,
hoeveel te meer 'n goddelose
en 'n sondaar!

Tans Gekies:

Spreuke 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan