Spreuke 11:1-15

Spreuke 11:1-15 AFR20

'n Vals weegskaal is vir die HERE afstootlik, maar 'n egte gewig geniet sy goedkeuring. As verwaandheid kom, kom skande, maar by beskeie mense is daar wysheid. Die onkreukbaarheid van opregtes lei hulle, maar die verdorwenheid van verraderlikes vernietig hulle. Rykdom baat niks in 'n tyd van gramskap nie, maar regverdigheid red van die dood. Die regverdigheid van dié wat onberispelik is, maak sy pad gelyk, maar deur sy goddeloosheid val 'n goddelose. Die regverdigheid van opregtes red hulle, maar deur die wispelturigheid van verraderlikes word hulle self gevang. By die dood van 'n goddelose is sy hoop daarmee heen, en die verwagting wat rykdom bied, verlore. Die regverdige word uit nood bevry, en 'n goddelose neem dan sy plek in. Met die mond vernietig 'n ongelowige sy medemens, maar deur kennis word regverdiges bevry. Oor die voorspoed van regverdiges is 'n dorp verheug, en wanneer goddeloses ten gronde gaan, is daar jubelkrete. Deur die seën van opregtes bereik 'n dorp hoogtes, maar deur die mond van goddeloses word dit afgebreek. Wie sy naaste verkleineer, is sonder verstand, maar iemand met insig bly stil. Wie as 'n skindertong rondgaan, openbaar geheime, maar 'n betroubare persoon hou die saak verborge. Sonder leierskap val 'n volk, maar oorwinning lê by baie raadgewers. Iemand sal beslis skade ly wanneer hy vir 'n vreemde borg staan; wie 'n weersin het in die gee van handdrukke, is veilig.