'n Dwaas dink dit is reg
om te lewe soos hy wil,
maar 'n wyse mens luister
wanneer iemand vir hom sê wat om te doen.
'n Dwaas wys dadelik wanneer hy kwaad is,
'n verstandige mens wys nie hoe hy voel
wanneer mense hom beledig nie.
Wanneer iemand die waarheid praat,
dan bring hy 'n boodskap wat reg is,
'n getuie wat lieg, wil mense bedrieg.
Wanneer mense praat en nie dink wat hulle sê nie,
dan maak hulle ander mense seer.
Wyse mense sê dinge wat ander mense beter laat voel.
Woorde wat die waarheid is, bly altyd waar,
maar mense weet gou wanneer iemand 'n leuen vertel.
Mense wat planne maak om slegte dinge te doen,
wil ander mense bedrieg,
mense wat planne maak om dit goed te laat gaan,
maak ander mense bly.
Met die mens wat reg lewe,
gebeur daar niks wat sleg is nie.
Maar dit gaan altyd sleg met mense wat verkeerd doen.
Die Here haat iemand wat lieg,
maar Hy hou van mense wat die regte dinge doen.
'n Verstandige mens sê nie vir almal wat hy weet nie,
maar 'n dwaas skree en sê die dom dinge waaraan hy dink.
Mense wat fluks werk, sal oor ander mense regeer,
maar lui mense sal soos slawe moet werk.
'n Mens wat bekommerd is, voel nie gelukkig nie,
maar 'n vriendelike woord maak hom bly.
'n Mens wat reg lewe, loop op die pad
wat 'n vriend vir hom wys,
mense wat verkeerd doen, verdwaal op die pad
wat hulle self kies.
'n Lui mens kry niks,
hy vang ook nie diere in die veld om te eet nie,
'n mens wat fluks werk,
maak vir hom kosbare dinge bymekaar.
Wanneer mense aanhou om reg te doen,
dan hou hulle aan om te lewe,
wanneer hulle aanhou om so te lewe,
dan sal hulle nie sterf nie.