SPREUKE 12:15-28

SPREUKE 12:15-28 Bybel vir almal (ABA)

'n Dwaas dink dit is reg om te lewe soos hy wil, maar 'n wyse mens luister wanneer iemand vir hom sê wat om te doen. 'n Dwaas wys dadelik wanneer hy kwaad is, 'n verstandige mens wys nie hoe hy voel wanneer mense hom beledig nie. Wanneer iemand die waarheid praat, dan bring hy 'n boodskap wat reg is, 'n getuie wat lieg, wil mense bedrieg. Wanneer mense praat en nie dink wat hulle sê nie, dan maak hulle ander mense seer. Wyse mense sê dinge wat ander mense beter laat voel. Woorde wat die waarheid is, bly altyd waar, maar mense weet gou wanneer iemand 'n leuen vertel. Mense wat planne maak om slegte dinge te doen, wil ander mense bedrieg, mense wat planne maak om dit goed te laat gaan, maak ander mense bly. Met die mens wat reg lewe, gebeur daar niks wat sleg is nie. Maar dit gaan altyd sleg met mense wat verkeerd doen. Die Here haat iemand wat lieg, maar Hy hou van mense wat die regte dinge doen. 'n Verstandige mens sê nie vir almal wat hy weet nie, maar 'n dwaas skree en sê die dom dinge waaraan hy dink. Mense wat fluks werk, sal oor ander mense regeer, maar lui mense sal soos slawe moet werk. 'n Mens wat bekommerd is, voel nie gelukkig nie, maar 'n vriendelike woord maak hom bly. 'n Mens wat reg lewe, loop op die pad wat 'n vriend vir hom wys, mense wat verkeerd doen, verdwaal op die pad wat hulle self kies. 'n Lui mens kry niks, hy vang ook nie diere in die veld om te eet nie, 'n mens wat fluks werk, maak vir hom kosbare dinge bymekaar. Wanneer mense aanhou om reg te doen, dan hou hulle aan om te lewe, wanneer hulle aanhou om so te lewe, dan sal hulle nie sterf nie.

SPREUKE 12:15-28 Die Boodskap (DB)

Dit is net ’n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ’n Wyse mens luister graag na ander se raad. ’n Dom mens wys dadelik dat hy kwaad is. Hy doen niks om dit weg te steek nie. Almal kan sy woedende gesig sien. ’n Gelowige verontagsaam beledigings. Hy hoor dit sonder om hom te ontstel. ’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak. ’n Vals mens lieg net. Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie. Wie net altyd slegte planne teen ander beraam, is ’n bedrieër. Hy is ’n diep ongelukkige mens. Wie ander liefhet, ervaar groot vreugde. ’n Gelowige sal nie swaarkry nie. ’n Slegte mens se ellendes ken geen einde nie. Die Here haat ’n spul liegstories. Hy is lief vir mense wat die waarheid praat. ’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis. Dom mense blaker die min wat hulle weet, vir almal uit. Mense wat hard werk, bereik hulle doel. Hulle kom bo uit. Luies bly lewenslank ander se vloerlappe. Bekommernis versuur jou lewe. ’n Bemoedigende woord van ’n gelowige maak jou gelukkig. Gelowiges laat vriende vir hulle wys wat om te doen. Slegte mense lei ander die afgrond in. ’n Gelowige se lewe is vol opwinding. Wie net die verkeerde dinge doen se lewe is vol ellende. Dit is soos die dood. Slapheid bring jou nêrens nie. Jy word net armer. Harde werk is die moeite werd. Dit kan jou geld in die sak bring. ’n Gelowige geniet die lewe. Ongelowiges is lewendig dood. Hulle ken net angs en vrees.