1 Kronieke 15

15
Oorbring van die ark na Jerusalem
(2 Sam 6:12-23)
1 Dawid het vir hom huise opgerig in die Stad van Dawid. Hy het vir die ark van God 'n plek gereedgemaak en 'n tent daarvoor opgeslaan. 2Toe sê Dawid: “Niemand mag die ark van God dra nie, behalwe die Leviete. Want dit is hulle wat deur die Here uitgekies is om die ark van die Here te dra en Hom vir altyd te dien.”
3Dawid het toe die hele Israel in Jerusalem byeen laat kom om die ark van die Here boontoe te neem na die plek wat hy daarvoor gereedgemaak het. 4 Hy het die nageslag van Aäron en die Leviete byeengebring.
5Vir die nageslag van Kehat was Uriël die leier; sy stamgenote was 120 man.
6Vir die nageslag van Merari was Asaja die leier; sy stamgenote was 220 man.
7Vir die nageslag van Gersom was Joël die leier; sy stamgenote was 130 man.
8Vir die nageslag van Elisafan was Semaja die leier; sy stamgenote was 200 man.
9Vir die nageslag van Hebron was Eliël die leier; sy stamgenote was 80 man.
10Vir die nageslag van Ussiël was Amminadab die leier; sy stamgenote was 112 man.
11 Dawid het Sadok en Abjatar, die priesters, asook die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab ontbied 12en vir hulle gesê: “Julle is die familiehoofde van die Leviete. Heilig julleself, julle en julle stamgenote, en neem die ark van die Here, die God van Israel, boontoe, na die plek wat ek daarvoor gereedgemaak het, 13want die eerste keer was dit nie julle wat dit gedoen het nie. Die Here ons God het ons uitmekaar geslaan, omdat ons Hom nie geraadpleeg het soos dit hoort nie.”
14Die priesters en die Leviete het hulleself toe geheilig om die ark van die Here, die God van Israel, boontoe te neem. 15Die Leviete het toe die ark van God met die draaghoute op hulle skouers gedra, soos wat Moses in ooreenstemming met die woord van die Here opdrag gegee het.
16 Dawid het die leiers van die Leviete aangesê om hulle stamgenote, die sangers, te laat aantree met musiekinstrumente, harpe, liere en simbale, en om, terwyl hulle speel, hulle stemme in vreugde te laat opklink. 17 Die Leviete het toe Heman, seun van Joël, laat aantree, en uit sy stamgenote Asaf, seun van Beregja, asook Etan, seun van Kusaja, uit die nageslag van Merari, hulle stamgenote; 18en saam met hulle was hulle stamgenote wat tweede in rang was, die poortwagte Sagaria, Ben, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, en Jeïel.
19 Die sangers Heman, Asaf en Etan moes die kopersimbale bespeel. 20Sagaria, Asiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja moes op harpe “Jong Vroue” speel, 21en Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel, en Asasja, op liere, “Die Agtste”, om leiding te gee.
22Kenanja was die leier van die Leviete by die drawerk. Hy was die toesighouer by die drawerk, want hy het dit verstaan.
23Beregja en Elkana was deurwagte vir die ark. 24 Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser het voor die ark van God op trompette geblaas. Obed-Edom en Jegija was ook deurwagte voor die ark.
25 Dit was Dawid, die oudstes van Israel, en die •aanvoerders van duisend wat gegaan het om die verbondsark van die Here met vreugde uit die huis van Obed-Edom te gaan haal. 26Terwyl God die Leviete wat die verbondsark van die Here dra, gehelp het, het hulle sewe bulle en sewe ramme geoffer. 27Dawid was geklee in 'n mantel van fyn linne, so ook al die Leviete wat die ark gedra het, die sangers, en Kenanja, die hoofopsigter by die drawerk, en die sangers. Dawid het ook 'n efod van linne gedra. 28Die hele Israel was besig om die verbondsark van die Here met uitroepe en die geluid van 'n •ramshoring, trompette en simbale boontoe te neem, terwyl hulle op harpe en liere speel. 29Maar toe die verbondsark van die Here by die Stad van Dawid aankom, het Migal, die dogter van Saul, deur die venster afgekyk en koning Dawid sien huppel en dans. Sy het hom in haar hart verag.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan