1 Kronieke 14

14
Dawid se voorspoed in Jerusalem
(2 Sam 5:11-16)
1 Huram , die koning van Tirus, het gesante na Dawid gestuur, asook sederhout, klipmesselaars en skrynwerkers om vir hom 'n paleis te bou. 2Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel gevestig het, want sy koningskap het hoë aansien geniet om sy volk Israel se onthalwe.
3Dawid het in Jerusalem nog vroue geneem, en hy het nog seuns en dogters verwek. 4 Dit is die name van die kinders wat in Jerusalem vir hom gebore is:
Sammua, Sobab, Natan en Salomo,
5Jibgar, Elisua en Elpelet,
6Noga, Nefeg en Jafia,
7Elisama, Beëljada en Elifelet.
Veldslae teen die Filistyne
(2 Sam 5:17-25)
8Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning gesalf is oor die hele Israel, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek; maar Dawid het daarvan te hore gekom en teen hulle uitgetrek. 9 Die Filistyne het gekom en in die vallei van Refaïm stelling ingeneem. 10Dawid het by God raad gesoek: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my hand gee?” Die Here het vir hom gesê: “Trek op! Ek gee hulle in jou hand.”
11 Hulle het toe opgetrek na Baäl-Perasim, en daar het Dawid hulle verslaan. Dawid het gesê: “God het deur my hand deur my vyande gebreek soos water deurbreek.” Daarom noem hulle daardie plek Baäl-Perasim. 12Die Filistyne het hulle gode daar agtergelaat. Dawid het die opdrag gegee, en dit is verbrand.
13 Daarna het die Filistyne weer in die vallei stelling ingeneem. 14Dawid het God weer geraadpleeg, en God het vir hom gesê: “Moenie agter hulle aan optrek nie. Draai van hulle af weg en oorval hulle voor die balsempopuliere. 15Sodra jy die geluid van 'n opmars in die toppe van die balsempopuliere hoor, ruk op vir die geveg; want dan het God voor jou uit getrek om die leër van die Filistyne te verslaan.” 16Dawid het gemaak soos God hom beveel het, en hulle het die leër van die Filistyne verslaan, van Gibeon tot by Geser. 17 Dawid se roem het uitgekring na al die lande, en die Here het by al die nasies 'n vrees vir hom laat posvat.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan