1 Korinthiërs 15:12-34

1 Korinthiërs 15:12-34 AFR20

Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie 'n opstanding van dooies is nie? As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, •Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur 'n mens. Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens 'n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood. “Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees. Anders, wat sal diegene wil bereik wat hulleself ter wille van die dooies laat doop? Indien dooies glad nie opgewek word nie, waarom laat hulle hulle ter wille van dooies doop? En waarom stel ons ons van uur tot uur in gevaar? So waar as wat ek van dag tot dag in doodsgevaar verkeer, so waar is dit, broers, dat julle my rede tot roem is in •Christus Jesus, ons Here. As ek in Efese as 'n sterflike mens teen wilde diere geveg het, van watter nut was dit vir my? As dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons”. Laat julle nie mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” Wees nugter in julle denke, soos dit hoort, en moenie sondig nie. Sommige van julle het helaas geen kennis van God nie. Dit sê ek tot julle skande.