Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie. As dit darem waar sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ’n klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie. As Jesus nog dood is, beteken dit dat ons ’n klomp leuens oor God ook vertel, want ons sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het. As God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus - dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie. En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde. Dan help dit niks meer dat julle sê julle glo nie. Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ’n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel.
Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy.
Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word. Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan. Dan sal die einde daar wees. Christus sal daarvoor sorg dat nie ’n enkele vyand van God oorbly nie. Hy sal met die laaste een klaarspeel. Dan sal Hy alle oë finaal op God, sy Vader, rig sodat hulle Hom as die groot Koning kan dien. Christus moet egter nog as Koning heers tot tyd en wyl Hy elke vyand van God op sy plek gesit het. Nie een vyand sal wegkom nie; ook die dood se mag sal heeltemal gebreek word. Die Skrif sê mos dat God Christus oor alles sal laat heers. As die Skrif oor “alles” praat, sluit dit natuurlik nie vir God self in nie. Wanneer die Seun oor alles heers en al die vyande van God uitgewis is, sal Hy Hom met alles wat Hy het onder die heerskappy van God kom stel. God sal dan oor alles regeer en almal sal Hom as Heerser erken.
As dit nou waar was dat mense nie weer lewendig gemaak sal word nie, wat dan van die mense wat hulle laat doop sodat dié wat reeds dood is daarby kan baat? Vir wat doen hulle dit dan? Dieselfde geld vir ons: Hoekom leef ons as Christene swaar as ons nie oortuig is dat daar so iets soos ’n opstanding uit die dood is nie? My liewe broers en susters, dagin en daguit leef ek in die skaduwee van die dood. Daarvan kan julle net so seker wees as dat ek trots is op wat Christus Jesus, ons Here, vir julle beteken en gedoen het. Waarom sou ek hier in Efese as ’n sterflike mens soos ’n dier teen ander wilde diere geveg het as dit alles vir niks was nie? Dit maak mos nie sin nie. As daar niks anderkant die dood vir ons wag nie, moet ’n mens mos eerder doen wat die spreekwoord sê: “Laat ons nou eet en drink en vrolik wees, want môre is ons dood.” Moenie julle met ’n slap riem laat vang deur mense wat so praat nie. Onthou, as jy heeltyd na sulke mense luister, begin jy dit later self glo. Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen. Julle behoort julle te skaam dat party van julle regtig geen idee het van wie God is, wat Hy kan doen en wat Hy van julle verwag nie.