1 Korinthiërs 5:1-8

1 Korinthiërs 5:1-8 AFR20

'n Mens hoor werklikwaar van onsedelikheid onder julle, en dan 'n soort seksuele losbandigheid wat selfs nie onder die heidene geduld word nie – dat 'n man met sy vader se vrou saamleef. Tog is julle steeds hoogmoedig! Moes julle nie eerder treur, en toesien dat hy wat hierdie daad gepleeg het, uit julle midde verwyder word nie? Wat my betref, alhoewel ek liggaamlik afwesig is, is ek in die gees by julle. Asof teenwoordig, het ek reeds die man wat so 'n ding gedoen het, geoordeel. Wanneer julle in die Naam van ons Here Jesus vergader, en ek in die gees teenwoordig is, gee dan, met die krag van ons Here Jesus, só 'n mens oor aan Satan om sy sondige aard te vernietig, sodat sy gees op die dag van die Here verlos mag word. Julle grootpratery is nie mooi nie. Weet julle dan nie dat 'n klein bietjie suurdeeg die hele mengsel deursuur nie? Verwyder die ou suurdeeg, sodat julle nuwe deeg kan wees, soos julle inderdaad ongesuurde brood is. Want ook ons Pasgalam, •Christus, is geslag. Laat ons daarom feesvier, nie met ou suurdeeg, die suurdeeg van kwaad en boosheid nie, maar met die ongesuurde brood van opregtheid en waarheid.