1 Konings 19:14-21

1 Konings 19:14-21 AFR20

Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” Toe sê die HERE vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek. Wie aan die swaard van Gasael ontkom – Jehu sal hom doodmaak, en wie aan die swaard van Jehu ontkom – Elisa sal hom doodmaak. Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.” Elia het daarvandaan weggegaan en Elisa, seun van Safat, aangetref terwyl hy ploeg. Twaalf pare osse was voor hom aan die werk; hy was self by die twaalfde paar. Elia gaan toe na hom en gooi sy mantel oor hom. Hy het die osse net daar gelaat, agter Elia aan gehardloop en gesê: “Ek wil asseblief my vader en moeder met 'n soen gaan groet, dan sal ek u volg.” Maar hy antwoord hom: “Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?” Hy draai toe om agter hom, neem een paar osse, slag hulle en maak die vleis gaar met die osse se trekgoed. Hy gee dit toe vir die mense, en hulle het dit geëet. Toe maak hy gereed en volg Elia. Hy het sy helper geword.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Konings 19:14-21