So het dit jaar ná jaar gegaan. Elke keer as Hanna opgegaan het na die huis van die HERE, het Peninna haar só getreiter dat sy gehuil het en nie wou eet nie. Elkana, haar man, het op 'n keer vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy? Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie? ”
Nadat hulle daar in Silo klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Eli, die priester, het op die stoel by die deurkosyn van die •tempel van die HERE gesit. Sy was bitter ongelukkig en het tot die HERE gebid terwyl sy onbedaarlik huil. Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “HERE, Heerser oor alle magte, as U tog net die ellende van u slavin wil raaksien en aan my sal dink en u slavin nie sal vergeet nie, en as U aan u slavin 'n manlike nasaat sal gee, dan sal ek hom aan U, HERE, teruggee so lank hy leef. 'n Skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie. ”
Terwyl Hanna so aanhou bid voor die HERE, het Eli haar mond dopgehou. Maar Hanna self was besig om in haar hart te praat – net haar lippe het beweeg en haar stem was onhoorbaar. Eli het gedink sy is dronk. Eli sê toe vir haar: “Hoe lank nog gaan jy dronk bly? Raak ontslae van jou wyn!”
Maar Hanna het geantwoord en gesê: “Nee, my heer! Ek is 'n vrou met 'n swaar gemoed. Wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my hart voor die HERE uitgestort. Moet my, u slavin, nie as 'n slegte vrou beskou nie, want dit is oor my kommer en ontsteltenis wat ek so lank gepraat het.”
Eli het haar geantwoord en gesê: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan. ”
“Mag u slavin genade vind in u oë,” het sy gesê.
Die vrou is toe daar weg. Sy het geëet, en haar gesig was nie meer droewig nie. Hulle het vroeg die volgende môre opgestaan, voor die HERE in aanbidding gebuig, en weer na hulle huis in Rama gegaan.
Elkana het met sy vrou Hanna gemeenskap gehad, en die HERE het aan haar gedink. Met die draai van die jaar was Hanna swanger en het sy aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “van die HERE het ek hom gevra”.