1 Samuel 5

5
God se ark tussen die Filistyne
1Toe die Filistyne die ark van God weggevoer het, het hulle dit van Eben-Haeser af na Asdod toe gebring. 2Die Filistyne het die ark van God geneem, dit in die tempel van Dagon ingebring en langs Dagon neergesit.
3Toe die mense van Asdod vroeg die volgende môre opstaan – daar lê Dagon met sy gesig teen die grond voor die ark van die Here! Hulle het Dagon geneem en hom op sy plek teruggesit. 4Maar toe hulle die oggend daarna vroeg opstaan – daar lê Dagon met sy gesig teen die grond voor die ark van die Here! Dagon se kop en sy twee hande lê toe afgekap op die drumpel. Net Dagon se lyf het van hom oorgebly. 5Daarom trap die priesters van Dagon, en almal wat die tempel van Dagon binnegaan, tot vandag toe nie op die drumpel van Dagon in Asdod nie.
6Die hand van die Here was swaar op die mense van Asdod. Hy het paniek gesaai onder hulle, en Hy het hulle, dit is Asdod en sy omliggende gebied, getref met swelsels. 7Toe die manne van Asdod sien wat gebeur, sê hulle: “Die ark van die God van Israel kan nie by ons bly nie, want sy hand rus swaar op ons en op Dagon, ons god.”
8Hulle het al die Filistynse regeerders ontbied en by hulle byeengebring. Hulle vra toe: “Wat moet ons doen met die ark van die God van Israel?” Hulle antwoord was: “Die ark van die God van Israel moet na Gat verskuif word.” Hulle het toe die ark van die God van Israel verskuif.
9Maar nadat hulle dit verskuif het, was die hand van die Here teen die stad. Daar het baie groot paniek geheers. Hy het die mense van die stad getref, klein en groot, en swelsels het op hulle uitgebreek. 10Toe stuur hulle die ark van God na Ekron; maar die oomblik toe die ark van God by Ekron aankom, het die mense van Ekron uitgeskreeu: “Hulle het die ark van die God van Israel na ons verskuif om ons en ons volk dood te maak!”
11Hulle het al die Filistynse regeerders ontbied, hulle byeengebring en vir hulle gesê: “Stuur die ark van die God van Israel weg, sodat dit na sy plek kan teruggaan en nie ons en ons volk doodmaak nie.” Daar het immers 'n doodspaniek in die hele stad geheers. Die hand van God was baie swaar daarop. 12Die mense wat nie dood is nie, is getref met swelsels; en die noodkreet van die stad het na die hemel gestyg.

Tans Gekies:

1 Samuel 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan