1 Samuel 6

6
Terugkeer van die ark
1Toe die ark van die Here sewe maande in die Filistynse gebied was, 2het die Filistyne die priesters en waarsêers ontbied en gesê: “Wat moet ons met die ark van die Here maak? Maak aan ons bekend waarmee ons dit na sy plek toe moet terugstuur.” 3Hulle het geantwoord: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie sonder iets terugstuur nie, maar julle moet dit beslis met skadevergoeding vir die Here laat teruggaan. Dan sal julle gesond word en dit sal vir julle duidelik word waarom sy hand nie van julle wyk nie.”
4Die Filistyne vra toe: “Wat is die skadevergoeding wat ons vir Hom moet terugstuur?” Hulle antwoord was: “In ooreenstemming met die getal Filistynse heersers, vyf swelsels van goud en vyf muise van goud, want een en dieselfde plaag het julle almal en ook al julle regeerders getref. 5Maak dan nou afbeeldings van julle swelsels en van die muise wat julle land verniel en betoon daardeur eer aan die God van Israel. Miskien maak Hy dan sy hand ligter oor julle, julle gode en julle land. 6Waarom sou julle onversetlik wees soos die Egiptenare en die farao onversetlik was? Was dit nie toe die Here hulle vir die gek gehou het, dat hulle die Israeliete laat gaan het, en hulle getrek het nie? 7Kry dan nou 'n nuwe wa gereed, asook twee koeie in die melk wat nog nie onder die juk was nie. Span die koeie dan voor die wa in, maar keer hulle kalwers agter hulle weg huis toe. 8Neem dan die ark van die Here en plaas dit op die wa. Die goue voorwerpe wat julle vir die Here as skadevergoeding teruggee, moet julle langsaan in 'n saalsak neersit. Stuur die ark dan weg, laat dit gaan; 9maar hou dit dop: As dit met die pad na sy gebied opgaan, na Bet-Semes toe, is dit Hy wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. Indien nie, sal ons weet dat dit nie sy hand was wat ons getref het nie; dit het dan toevallig met ons gebeur.”
10Die manne het toe so gemaak. Hulle het twee koeie wat in die melk was, geneem en voor 'n wa ingespan, maar hulle kalwers is teruggehou by die huis. 11Hulle het die ark van die Here op die wa gesit, en ook die saalsak met die goue muise en die afbeeldings van hulle swelsels. 12Die koeie het met die pad langs reguit in die rigting van Bet-Semes geloop. Met die een hoofpad het hulle geloop, al bulkende, maar hulle het nie links of regs afgedraai nie, terwyl die Filistynse heersers agter hulle aan loop tot by die grens van Bet-Semes.
13Die mense van Bet-Semes was besig om die koringoes in die vallei in te samel. Toe hulle opkyk, sien hulle die ark. Hulle was bly om dit te sien. 14Toe die wa aankom by die land van Josua, 'n man van Bet-Semes, het dit daar gaan staan. Daar was 'n groot klip, en hulle het die hout van die wa opgekap en die koeie as 'n •brandoffer aan die Here geoffer.
15Die Leviete het eers die ark van die Here afgelaai en daarmee saam die saalsak waarin die goue voorwerpe was. Hulle het dit by die groot klip neergesit, en die manne van Bet-Semes het brandoffers gebring. Hulle het daardie dag vir die Here offers geslag. 16Die vyf heersers van die Filistyne het dit gesien en dieselfde dag nog teruggegaan na Ekron.
17Dit was die goue swelsels wat die Filistyne as skadevergoeding aan die Here gestuur het: een vir Asdod, een vir Gasa, een vir Askelon, een vir Gat en een vir Ekron. 18Die goue muise stem ooreen met die getal van al die Filistynse stede wat aan die vyf heersers behoort, die versterkte stede saam met die nedersettings. As 'n getuienis is die groot klip waarop die ark van die Here tot rus gekom het, tot vandag toe nog daar in die land van Josua, die man van Bet-Semes.
19 Maar die Here het van die inwoners van Bet-Semes getref, omdat hulle die ark van die Here bekyk het. Hy het sewentig man van die bevolking getref. Die volk het getreur, omdat die Here so 'n groot slagting onder die volk aangerig het.
20Die manne van Bet-Semes sê toe: “Wie kan voor hierdie heilige God, die Here, staande bly? Na wie toe kan die ark van ons af gaan?” 21Hulle stuur toe boodskappers na die inwoners van Kirjat-Jearim met die versoek: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggebring. Kom af hierheen en neem dit op na julle.”

Tans Gekies:

1 Samuel 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan