Dit is wat gebeur het toe die HERE vir Elia in 'n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad, toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die HERE stuur my na Bet-El. ” Elisa het egter gesê: “So waar as die HERE leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El. Die profetegroep wat in Bet-El was, het na Elisa uitgegaan en vir hom gevra: “Weet u dat die HERE vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!”
Elia sê toe vir hom: “Elisa, bly asseblief hier, want die HERE stuur my na Jerigo. ” Maar hy het geantwoord: “So waar as die HERE leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!”
Toe hulle in Jerigo aankom, het die profetegroep wat in Jerigo was, na Elisa gekom en vir hom gevra: “Weet u dat die HERE vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!”
Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die HERE stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die HERE leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan.
Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op 'n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief 'n dubbele deel van u gees na my kom.” Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik 'n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur.
Hy het Elia se mantel wat van hom afgeval het, opgetel, omgedraai en by die kant van die Jordaan gaan staan. Toe neem hy Elia se mantel wat van hom afgeval het, slaan die water en sê: “Waar is die HERE, die God van Elia?” Ook hy het die water geslaan, en die water het na weerskante verdeel, en Elisa het oorgegaan. Toe die profetegroep wat aan die oorkant in Jerigo was, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus op Elisa.” Hulle het hom tegemoetgegaan en diep voor hom na die grond toe gebuig. Hulle het vir hom gesê: “Kyk, by u dienaars is daar vyftig onverskrokke manne; laat hulle asseblief gaan en u heer soek. Dalk het die wind van die HERE hom opgetel en op een van die berge of in een van die valleie neergewerp.” Maar hy het gesê: “Moet hulle nie stuur nie.” Hulle het egter by hom aangedring totdat hy verleë geraak het, en sê: “Stuur dan maar!” Daarop het hulle vyftig man gestuur wat drie dae lank gesoek het, maar hulle kon hom nie kry nie. Hulle het teruggekeer na Elisa terwyl hy nog in Jerigo gebly het, en hy het vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie gaan nie?’ ”