Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel sou opneem.
Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”
Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle is toe na Bet-El toe. Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle het saam in Jerigo aangekom. Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle twee is toe saam verder.
'n Vyftigtal van die profete is agterna en het op 'n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.
Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”
Elisa het geantwoord: “Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!”
Toe sê Elia: “Dis 'n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in. Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”
Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur. Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”
Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan. Toe die profete van Jerigo wat 'n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus nou op Elisa.”
Hulle het hom tegemoet geloop en voor hom gebuig.
Hulle sê toe vir hom: “Daar is vyftig dapper manne onder ons; laat hulle tog u leermeester gaan soek: dalk het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op 'n berg of in 'n vallei neergelaat.”
Elisa het geantwoord: “Moet hulle nie stuur nie.”
Maar hulle het by hom bly aandring totdat hy nie meer kon weier nie, en toe sê hy: “Stuur hulle dan maar.”
Hulle het vyftig man gestuur, maar hoewel hulle drie dae lank gesoek het, kon hulle Elia nie kry nie. Toe hulle terugkom in Jerigo waar Elisa oorgebly het, het hy vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?”