2 Konings 2:19-25

2 Konings 2:19-25 AFR20

Die manne van die dorp het vir Elisa gesê: “Kyk, die ligging van die dorp is goed, soos my heer kan sien; maar die water is sleg en die grond veroorsaak misgeboortes.” Toe sê hy: “Bring vir my 'n nuwe skotteltjie en gooi sout daarin.” Hulle het dit vir hom gebring, en hy het uitgegaan na die bron van die water, die sout daarin gegooi en gesê: “So sê die HERE, ‘Ek het hierdie water gesond gemaak; dit sal nie meer dood of misgeboortes veroorsaak nie.’ ” Die water is tot vandag toe gesond, ooreenkomstig die woord van Elisa wat hy gespreek het. Hy het daarvandaan opgegaan na Bet-El. Terwyl hy padlangs opgaan, het 'n groep klein seuntjies uit die dorp gekom. Hulle het met hom die spot gedryf en vir hom gesê: “Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!” Hy het omgedraai en toe hy hulle sien, het hy hulle vervloek in die naam van die HERE. Twee bere het uit die bos gekom en twee-en-veertig van die kinders verskeur. Daarvandaan het hy na die berg Karmel gegaan, en van daar af het hy teruggekeer na Samaria.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 2:19-25