2 Konings 4:38-44

2 Konings 4:38-44 AFR20

Elisa het teruggegaan na Gilgal. Daar was hongersnood in die land. Terwyl die profetegroep voor hom sit, het hy vir sy dienaar gesê: “Sit 'n groot pot op en kook 'n gereg vir die profetegroep.” Een van hulle het uitgegaan in die veld om wildemalvablare te pluk. Hy kom toe af op 'n wilde rankplant en pluk bitterappels daarvan af, totdat die vou in sy kleed vol was. Hy kom toe en sny dit op in die pot met die gereg, alhoewel hulle dit nie geken het nie. Hulle het dit vir die manne uitgedeel om te eet, maar toe hulle van die gereg begin eet, roep hulle uit en sê: “Die dood is in die pot, man van God!” Hulle kon dit nie eet nie. Hy sê toe: “Gaan haal meel!” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Deel uit vir die mense sodat hulle kan eet!” Daar was toe nie meer iets skadeliks in die pot nie. Daar het 'n man uit Baäl-Salisa gekom wat vir die man van God brood van die oes se eerste opbrengs en twintig garsbrode gebring het, asook vars graan in sy kossak. Elisa sê toe: “Gee vir die mense, dat hulle kan eet!” Maar sy helper sê: “Hoe kan ek dit vir honderd man gee?” Hy het geantwoord: “Gee vir die mense, dat hulle kan eet, want so sê die HERE, ‘Hulle sal eet en daar sal oorbly.’ ” Hy het dit toe aan hulle voorgesit, en hulle het geëet en nog oorgehou, ooreenkomstig die woord van die HERE.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 4:38-44