2 Samuel 21

21
Lot van Saul se nakomelinge
1In die tyd van Dawid was daar drie agtereenvolgende jare lank hongersnood. Dawid het die teenwoordigheid van die Here opgesoek, en die Here het gesê: “Dit is oor Saul, oor sy huis van bloedskuld, omdat hy die Gibeoniete doodgemaak het.”
2Toe ontbied die koning die Gibeoniete en praat met hulle. Die Gibeoniete was nie deel van die Israeliete nie, maar was deel van 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het vir hulle 'n eed afgelê, maar Saul het in sy ywer vir die Israeliete en Juda probeer om hulle uit te wis. 3Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen, en waarmee moet ek versoening doen, sodat julle die eiendom van die Here kan seën?” 4Die Gibeoniete het vir hom gesê: “Dit gaan nie vir ons oor silwer en goud as dit by Saul en sy familie kom nie; dit gaan nie vir ons daaroor om iemand in Israel dood te maak nie.” Toe vra hy: “Wat sê julle dan moet ek vir julle doen?” 5Hulle het vir die koning gesê: “Die man wat ons vernietig het, wat planne teen ons beraam het, sodat ons uitgewis is sonder enige bestaansreg in die hele gebied van Israel, 6laat daar sewe manne uit sy nageslag aan ons gegee word – dan sal ons hulle voor die Here aan pale hang in Gibea van Saul, die uitverkorene van die Here. ” Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.”
7 Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan, seun van Saul, gespaar oor die eed voor die Here tussen hulle, tussen Dawid en Jonatan, seun van Saul. 8Die koning het Armoni en Mefiboset geneem – die twee seuns van Rispa, dogter van Aja, wat sy vir Saul in die wêreld gebring het – asook die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy in die wêreld gebring het vir Adriël, seun van Barsillai, die man uit Megola. 9Hy het hulle aan die Gibeoniete oorhandig en dié het hulle voor die Here aan pale gehang op die berg. Die sewe het saam beswyk. Hulle is om die lewe gebring gedurende die eerste dae van die oes, aan die begin van die garsoes. 10 Rispa, dogter van Aja, het 'n roukleed geneem en dit vir haar op die rots oopgesprei, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemelruim op hulle neergestort het. Sy het nie die voëls van die hemel toegelaat om bedags op die lyke toe te sak nie, en ook nie die wilde diere snags nie. 11Toe daar aan Dawid vertel is wat Rispa, dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het, 12het hy wat Dawid is, gegaan en die beendere van Saul en sy seun Jonatan gaan haal by die burgers van Jabes in Gilead, wat dit in die geheim verwyder het van die plein in Bet-San, waar die Filistyne hulle opgehang het die dag toe die Filistyne Saul op Gilboa verslaan het. 13Dawid het die beendere van Saul en Jonatan daarvandaan opgeneem. Hulle het ook die beendere van dié wat aan pale gehang is, bymekaargemaak. 14Hulle het toe die beendere van Saul en sy seun Jonatan neergelê in die graf van Kis, Saul se vader, in die gebied van Benjamin, in Sela. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. God het die smeekbedes vir die land daarna verhoor.
Oorlog met reuse
15Die Filistyne het toe weer oorlog gemaak met Israel. Dawid het afgetrek, en sy dienaars saam met hom. Hulle het teen die Filistyne geveg, maar Dawid het moeg geword. 16Jisbi-Benob, uit die nageslag van Rafa, het gedink dat hy Dawid kan verslaan. Die gewig van sy lans was driehonderd sikkel brons, en hy was omgord met 'n nuwe swaard. 17Abisai, seun van Seruja, het Dawid te hulp gekom, die Filistyn verslaan en hom doodgemaak. Toe het die manne van Dawid onder eed vir hom gesê: “U mag nie weer saam met ons uittrek vir 'n geveg nie. U mag nie die lamp van Israel uitdoof nie.”
18 'n Tyd daarna was daar nog 'n geveg met die Filistyne in Gob. Dit was toe dat Sibbegai uit Gusa vir Saf, uit die nageslag van Rafa, verslaan het. 19Toe daar weer 'n geveg was met die Filistyne in Gob, het Elganan, seun van Jaäre-Oregim, uit Betlehem, Goliat uit Gat verslaan. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam. 20Toe daar weer 'n geveg in Gat was, was daar 'n reus van 'n man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet – vier-en-twintig altesaam. Ook hy het van Rafa afgestam. 21Hy het Israel uitgetart, maar Jonatan, seun van Samma, die broer van Dawid, het hom verslaan. 22Hierdie vier het afgestam van Rafa in Gat, maar hulle het gesneuwel aan die hand van Dawid en sy dienaars.

Tans Gekies:

2 Samuel 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan