2 Samuel 22

22
Dawid se loflied
1 Dawid het die woorde van hierdie lied vir die Here voorgedra in die tyd toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. 2Hy het gesê:
“Die Here is my rotsvesting,
my bergskuiling, my bevryder.
3My God is my rots by wie ek skuil,
my skild en die horing van my redding,
my toevlugsoord, my skuilplek,
my verlosser –
van geweld het U my verlos.
4Die Een wat geloof moet word –
roep ek uit – is die Here!
En van my vyande word ek verlos.
5 Ja, bande van die dood
het my omsluit;
strome van vernietiging
het my verskrik;
6bande van die •doderyk
het my verstrengel;
vangstrikke van die dood
het my ingewag.
7 In my benoudheid
het ek na die Here bly roep;
na my God het ek geroep.
In sy paleis het Hy my stem gehoor;
my hulpgeroep het sy ore bereik.
8“Toe het die aarde
geskud en geruk;
die fondamente van die hemel
het gebewe.
Dit het geskud want sy toorn
het ontbrand:
9 Rook het uit sy neus opgestyg,
'n verterende vuur uit sy mond;
gloeiende kole het daaruit opgevlam.
10Hy het die hemel afgebuig
en neergedaal;
diepe duisternis was onder sy voete.
11Hy het op 'n gerub gery,
Hy het gevlieg,
verskyn op die vlerke van die wind.
12Hy het van die donker rondom
Hom 'n beskutting gemaak,
swaar wolke,
waaruit water neersif.
13Uit die glans voor Hom
het gloeiende kole vuur gebrand.
14 Die Here laat uit die hemelruim
die donder weerklink;
die Allerhoogste laat sy stem hoor.
15Hy stuur sy pyle
en jaag hulle uiteen,
weerligstrale,
en bring hulle in verwarring.
16Die beddings van die see
het sigbaar geword;
die fondamente van die aarde is ontbloot
deur die dreiging van die Here,
deur die windvlaag uit sy neus.
17“ Uit die hoogte
het Hy sy hand uitgestrek,
my gegryp,
my uit die watermassa opgetrek.
18Hy het my weggeruk
van my magtige vyand,
weg van my haters,
want hulle was sterker as ek.
19Op die dag van my teenspoed
het hulle my ingewag,
maar die Here was vir my 'n stut:
20Hy het my na 'n oopte uitgelei;
Hy het my bevry,
omdat Hy my goedgesind is.
21“Die Here het aan my goed gedoen,
op grond van my geregtigheid;
omdat my hande skoon is,
het Hy my vergoed.
22Want ek het op die Here se paaie gebly;
en my nie skuldig gemaak
voor my God nie.
23Ja, ek hou al sy wette voor oë,
en sy vaste voorskrifte –
daarvan wyk ek nie af nie.
24Ek was onberispelik voor Hom,
en het my weerhou van sonde.
25Die Here het my vergoed,
op grond van my geregtigheid,
omdat my hande skoon is in sy oë.
26“Teenoor getroue volgelinge
tree U getrou op;
teenoor die held
wat onberispelik is,
tree U onberispelik op;
27teenoor dié wat hulle rein hou,
bewys U Uself rein;
maar teenoor dié wat vals is,
tree U berekenend op!
28 'n Magtelose volk
word deur U verlos,
en u oë hou hoogmoediges dop;
U verneder hulle.
29Ja, U is my lig, Here;
die Here verlig my donkerte.
30Ja, met U hardloop ek
oor 'n skans,
met my God spring ek
oor 'n muur.
31“God, sy weg is volmaak;
die woord van die Here is gelouter.
Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.
32 Ja, wie is God behalwe die Here?
Wie is 'n rots buiten ons God?
33God is my sterk toevlug;
Hy maak my pad volmaak.
34 Hy maak my voete
soos dié van wildsbokke;
op hoë plekke laat Hy my vasstaan.
35Hy maak my hande bedrewe
vir die geveg,
sodat my arms 'n bronsboog
kan span.
36“ U het vir my u skild
van verlossing gegee;
u antwoord maak my sterk.
37 U skep ruimte vir my voetstappe;
my enkels swik nie.
38Ek agtervolg my vyande
en delg hulle uit;
ek draai nie om voordat ek hulle
uitgewis het nie.
39Ek wis hulle uit,
ek verpletter hulle,
sodat hulle nie opstaan nie;
hulle val onder my voete.
40U omgord my met krag
vir die geveg;
U laat my teenstanders
die knie voor my buig.
41 My vyande –
U het hulle vir my laat vlug;
en my haters –
ek kon hulle vernietig.
42Hulle het rondgekyk,
maar daar was geen verlosser nie,
selfs na die Here gekyk,
maar Hy het hulle
nie geantwoord nie.
43Ek het hulle fyngestamp
soos die stof van die aarde;
soos modder in die strate
het ek hulle verpoeier,
ek het hulle vertrap.
44U het my van die gestry
onder my volk bevry;
U beskerm my, die hoof van nasies.
Mense wat ek nie geken het nie,
dien my;
45vreemdes veins onderdanigheid
aan my;
sodra hulle van my hoor,
gehoorsaam hulle my.
46Vreemdes verloor moed;
bewend kom hulle
uit hulle kerkers.
47“Die Here leef!
Lofwaardig is my rots;
die God wat die rots
van my verlossing is,
is verhewe!
48God is die Een wat my toelaat
om wraak te neem;
Hy onderwerp volke aan my,
49Hy wat my weglei
van my vyande.
Ja, U verhoog my
bo my teenstanders;
van manne van geweld ruk U my weg.
50 Daarom sal ek U prys
onder die nasies, Here;
u Naam sal ek besing.
51Dit is Hy wat aan sy koning
groot oorwinnings gee,
wat troue liefde bewys
aan sy gesalfde,
aan Dawid en sy nageslag vir altyd. ”

Tans Gekies:

2 Samuel 22: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan