Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit. Hy het gesê:
“Wie is ek, HERE, my Heer;
en wie is my huis
dat U my tot hier gebring het?
En asof dit nie genoeg is
in u oë nie, HERE, my Heer,
het U ook oor die huis
van u dienskneg gepraat,
tot in die verre toekoms,
en dit as voorskrif vir mense,
HERE, my Heer.
Maar wat kan Dawid verder
vir U sê?
U ken self u dienskneg,
HERE, my Heer.
Ter wille van u belofte
en volgens u wil
het U hierdie hele groot saak
so bewerk dat dit
aan u dienskneg bekend kon word.
Daarom, U is groot,
HERE, my Heer;
ja, daar is niemand soos U nie.
Daar is geen God behalwe U nie,
volgens alles wat ons
met ons eie ore gehoor het.
En wie is soos u volk, soos Israel,
die enigste nasie op aarde van wie
dit geld dat God gegaan het
om hulle vir Homself
vry te koop as 'n volk,
en om vir Homself naam
te maak deur aan hulle grootse
en wonderlike dade te doen,
en aan u land,
ter wille van u volk
wat U vir U vrygekoop het
van Egipte, van die nasies
en die gode van Egipte?
U het u volk Israel vir U as volk
gevestig vir altyd.
U, HERE, U het hulle God geword.
HERE, God, doen dan nou
die woord gestand
wat U gespreek het
oor u dienskneg en sy huis,
vir altyd;
doen wat U gesê het,
sodat u Naam vir ewig
groot sal wees,
en daar gesê sal word,
‘Die HERE, Heerser oor alle magte,
is God oor Israel.’
En wat die huis van u dienskneg
Dawid betref,
mag dit voor U in stand bly,
want U, HERE,
Heerser oor alle magte,
God van Israel,
het aan u dienskneg
dit geopenbaar, en gesê,
‘'n Huis sal Ek vir jou bou.’
Daarom het u dienskneg die moed
om hierdie gebed tot U te bid.
En nou, HERE, my Heer, U is God,
en u woorde is betroubaar.
U het hierdie goeie woord
oor u dienskneg uitgespreek.
Wees dan nou bereid
om die huis van u dienskneg
te seën,
sodat dit vir altyd voor U sal wees.
U, HERE, my Heer, het dit immers
self gesê,
en deur u seën sal die huis
van u dienskneg
altyd geseënd wees.”