2 SAMUEL 7:18-29

2 SAMUEL 7:18-29 AFR83

Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het? Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat 'n toesegging aan 'n mens, Here my God! “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here. U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak. Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vrygemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vrygemaak het. U het u volk Israel vir U gevestig as 'n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword. En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het, sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: “ ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel.’ “Laat die nageslag van u dienaar Dawid voor U voortbestaan. Here, Almagtige, God van Israel, U het nadruklik vir u dienaar gesê: ‘Ek sal vir jou 'n koningshuis vestig,’ en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot U te rig. “En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak. Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 SAMUEL 7:18-29