Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Daniël 1:3-17

Daniël 1:3-17 AFR20

Die koning het Aspenas, die rabsaries, toe aangesê om uit die Israeliete, uit die koninklike familie en die vernames, jong seuns te bring aan wie daar nie enige liggaamsgebrek is nie, wat 'n goeie voorkoms het, wat insig in alle soorte wysheid het, wat oor kennis en goeie oordeelsvermoë beskik, en wat in staat is om in die paleis van die koning te dien, en in die skrif en taal van die Galdeërs onderrig te word. Vir hulle het die koning, volgens die vereistes van elke dag, van die koning se kos en van die wyn wat hy gedrink het, voorgeskryf, sodat hulle vir drie jaar lank opgevoed kon word om aan die einde daarvan in diens van die koning te kan staan. Onder hulle was daar van die Judeërs – Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Maar die toesighouer oor die paleisamptenare, het hulle name vervang: Daniël het hy Beltsasar, Gananja het hy Sadrag, Misael het hy Mesag, en Asarja het hy Abednego genoem. Daniël was egter vas van voorneme dat hy homself nie sou besoedel met die koning se kos en die wyn wat die koning gedrink het nie. Hy het toe die toesighouer oor die paleisamptenare vergunning gevra dat hy homself nie hoef te besoedel nie. God het gesorg dat daar by die toesighouer oor die paleisamptenare 'n goeie gesindheid en ontferming was teenoor Daniël. Die toesighouer oor die paleisamptenare het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir my heer die koning, wat vir julle kos en drank voorgeskryf het. Waarom moet hy sien dat julle gesigte maerder is as dié van die ander jong seuns van julle ouderdom? Julle sal maak dat die koning my kop eis.” Daniël sê toe vir die oppasser wat die toesighouer oor die paleisamptenare oor hom, Daniël, en oor Gananja, Misael en Asarja aangestel het: “Toets asseblief u dienaars tien dae lank. Hulle moet ons van die groente gee, sodat ons dit eet, en water, sodat ons dit drink. Laat dan in u teenwoordigheid ons voorkoms en die voorkoms van die ander jong seuns wat die koning se kos eet, nagegaan word. Handel dan met u dienaars volgens wat u sien.” Hy het na hulle geluister wat hierdie saak betref, en hulle tien dae lank getoets. Aan die einde van die tien dae was hulle voorkoms beter en het hulle liggame voller vertoon as al die jong seuns wat die koning se kos bly eet het. Die oppasser het toe hulle kos en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en vir hulle groente bly gee. En hierdie jong seuns, hulle vier – aan hulle het God oordeelsvermoë gegee, en ook insig in allerlei geskrifte en wysheid. Daniël kon alle visioene en drome begryp.