Daniël 10

10
Verdere visioene
1 In die derde regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, is 'n woord geopenbaar aan Daniël, wat Beltsasar genoem is. Die woord is betroubaar en gaan oor 'n groot stryd. Hy het die woord verstaan en insig gekry in die openbaring.
2“ In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. 3Aangename kos het ek nie geëet nie, en vleis en wyn het by my mond nie gekom nie. Ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke verby was. 4Op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand was ek by die oewer van die groot rivier, dit is die Hiddekel. 5 Toe ek opkyk, sien ek, kyk, daar is 'n man geklee in linne, en sy heupe is omgord met goud van Ufas. 6 Sy liggaam was soos •chrisoliet en sy gesig het gelyk soos weerlig, terwyl sy oë soos fakkels van vuur was, en sy arms en voete soos gepoleerde brons geskitter het. Die geluid van sy woorde was soos die geluid van 'n menigte. 7 Ek, Daniël, het alleen die verskyning gesien; die manne wat saam met my was, het nie die verskyning gesien nie. Groot vrees het hulle egter oorval, en hulle het gevlug om weg te kruip. 8 Ek het alleen agtergebly en het hierdie groot verskyning gesien. Daar was geen krag in my oor nie, en my gelaatskleur het verander na doodsbleek. Ek kon nie my kragte herwin nie. 9Ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, was ek in 'n beswyming, met my gesig teen die grond. 10Kyk, 'n hand het my aangeraak en my geskud tot ek op my knieë en handpalms was. 11 Toe sê hy vir my, ‘Daniël, baie geliefde man, kry insig in die woorde wat ek met jou praat en staan op jou plek, want ek is nou na jou gestuur.’ En terwyl hy hierdie woorde met my praat, het ek bewend opgestaan. 12 Hy sê toe vir my, ‘Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. En ek het gekom op grond van jou woorde. 13 Maar die vors van die koninkryk van Persië het my een-en-twintig dae lank teengestaan. Maar kyk, Migael, een van die belangrikste vorste, het my te hulp gekom, en ek was oorbodig daar by die konings van Persië. 14 Ek het toe gekom om jou insig te laat kry oor wat met jou volk sal gebeur aan die einde van die dae, want die visioen geld weer vir die toekoms.’
15 “Terwyl hy in dié trant met my praat, het ek my gesig na die grond gerig en stom geword. 16 Kyk, toe het een met dieselfde voorkoms as mensekinders my lippe aangeraak. Daarna het ek my mond oopgemaak, gepraat en vir hom wat voor my staan, gesê, ‘My heer, as gevolg van die verskyning het 'n lamheid my oorweldig, en ek kon nie my kragte herwin nie. 17Hoe kon hierdie dienskneg van my heer dan met hierdie heer van my praat? En ek – van nou af bly daar geen krag oor in my nie; geen asem is meer oor in my nie.’
18“Die een wat soos 'n mens gelyk het, het my weer aangeraak en my weer krag gegee. 19Hy het gesê, ‘Moenie bang wees nie, baie geliefde man! Vrede vir jou. Wees sterk, ja, wees sterk!’
“Terwyl hy met my praat, het ek my krag herwin en gesê, ‘My heer kan maar praat, want u het my versterk.’
20 “Hy sê toe, ‘Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet weldra terugkeer om te veg teen die vors van Persië. En wanneer ek daar uitkom, kyk, dan kom die vors van Jawan. 21 Ek sal jou egter inlig oor wat opgeteken is in die geskrif van die waarheid. Daar is nie een wat my kragdadig ondersteun teen hierdie vorste nie, behalwe julle vors Migael.

Tans Gekies:

Daniël 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan