Daniël 11:31-36

Daniël 11:31-36 AFR20

Strydmagte deur hom byeengebring, sal opstaan en die heiligdom, die vesting, ontheilig, die gereelde offer afskaf en die verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, oprig. Dié wat skuldig staan teenoor die verbond, sal hy met slinkse woorde afvallig maak; maar die volk wat hulle God ken, sal sterk weerstand bied. Die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring, maar hulle sal struikel deur die swaard en vlamme, deur gevangenskap en plundering, vir 'n tyd lank. Terwyl hulle struikel, sal hulle 'n klein bietjie hulp ontvang, maar baie sal slinks by hulle aansluit. Sommige van die verstandiges sal struikel. Dit is om hulle te louter, uit te sif en te suiwer tot die eindtyd; want dit sal steeds op die vasgestelde tyd wees. “ ‘ Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal homself verhef en hom groot waan teen elke god; en teen die God van die gode sal hy verstommende dinge kwytraak. Hy sal voorspoedig wees totdat die vervloeking tot 'n einde kom, want dit is vooruitbepaal; dit sal uitgevoer word.