In die tweede jaar van Nebukadnesar se regering het Nebukadnesar drome gedroom. Sy gees was ontsteld, en sy slaap was daarmee heen. Die koning gee toe opdrag dat die waarsêerpriesters, goëlaars, towenaars en Galdeërs ontbied word om vir die koning sy drome uit te lê. Hulle het gekom en voor die koning gaan staan.
Die koning het vir hulle gesê: “Ek het 'n droom gehad, en my gees is ontsteld daaroor om te weet wat die droom was.” Die Galdeërs sê toe vir die koning (Aramees): “O koning, leef vir ewig! Vertel die droom vir u dienaars, dan sal ons die uitleg gee.” Die koning antwoord en sê toe vir die Galdeërs: “Die saak staan vas by my. As julle nie aan my die droom en sy uitleg bekend kan maak nie, sal julle ledemate afgekap word, en van julle huise sal vullishope gemaak word. As julle egter die droom en sy uitleg bekend maak, sal julle geskenke, belonings en groot eer van my ontvang. Daarom, maak nou die droom en sy uitleg bekend.”
Hulle het 'n tweede keer geantwoord en gesê: “Die koning moet die droom vir sy dienaars vertel, dan sal ons die uitleg gee.” Daarop antwoord die koning en sê: “Ek weet sonder twyfel dat julle probeer tyd wen, omdat julle gesien het dat die saak by my vasstaan, en dat, as julle aan my nie die droom bekend kan maak nie, net een wet vir julle geld! Gevolglik het julle oor 'n vals en leuenagtige verklaring ooreengekom, om dié aan my oor te dra, totdat die tyd gunstiger is. Daarom, vertel vir my die droom! Ek sal dan weet of julle sy uitleg aan my bekend kan maak.”
Die Galdeërs het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Daar is nie 'n mens op aarde wat in staat is om aan die koning se versoek te voldoen nie. Daarom het nog geen koning, hoe groot en magtig ook al, so iets van enige waarsêerpriester of towenaar of Galdeër gevra nie. Die saak wat die koning verlang, is moeilik, en daar is niemand wat dit vir die koning kan uitlê nie, behalwe die gode, wie se woning nie by sterflinge is nie.”
Hieroor het die koning hom vererg, en hy was baie kwaad. Hy gee toe bevel dat al die wyses van Babilonië om die lewe gebring moet word. Die bevel is uitgevaardig: “Die wyses moet doodgemaak word!” Hulle soek toe ook Daniël en sy metgeselle om hulle dood te maak. Daarop het Daniël met raad en goeie oordeel gereageer teenoor Ariog, die •aanvoerder van die koning se lyfwag, wat uitgetrek het om die wyses van Babilonië dood te maak. In sy reaksie het hy vir Ariog, die gevolmagtigde van die koning, gevra: “Waarom is die bevel van die kant van die koning dan so streng?” Daarop het Ariog die saak aan Daniël verduidelik, waarna Daniël ingegaan en vir die koning gevra het dat tyd aan hom gegun moes word om die uitleg van die droom aan die koning bekend te maak. Toe het Daniël na sy huis gegaan en die saak aan sy metgeselle Gananja, Misael en Asarja meegedeel, sodat hulle om ontferming kon pleit by die God van die hemel oor hierdie geheim, en Daniël en sy metgeselle nie om die lewe gebring sou word saam met die res van die wyses van Babilonië nie.