Vir alles is daar 'n vasgestelde tyd; daar is 'n tyd vir elke saak onder die hemel: 'n tyd om geboorte te gee en 'n tyd om te sterf; 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te trek wat geplant is; 'n tyd om 'n lewe te neem en 'n tyd om te genees; 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou; 'n tyd om te huil en 'n tyd om te lag; 'n tyd om te rou en 'n tyd om te dans; 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak; 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing; 'n tyd om te soek en 'n tyd om te laat wegraak; 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi; 'n tyd om te skeur en 'n tyd om toe te werk; 'n tyd om stil te bly en 'n tyd om te praat; 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat; 'n tyd van oorlog en 'n tyd van vrede. Watter voordeel het die een wat werk van dit waarmee hy hom afsloof? Ek het die taak gesien wat God aan mense gegee het om hulle mee te belas. Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Hy het ook die besef van tydsduur in hulle harte gegee, sonder dat die mens enigsins die werk wat God van begin tot einde doen, kan peil. Ek het besef dat daar tussen hulle niks beter is nie as om vreugde te ervaar en die goeie te geniet in die lewe – ja, elke mens – dat hy eet en drink en die goeie geniet by al sy inspanning. Dit is 'n gawe van God. Ek het besef dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Daaraan kan niks toegevoeg word nie, en daarvan kan niks weggeneem word nie. God het dit gedoen sodat hulle ontsag vir Hom sal hê. Wat ook al gebeur het, was lankal daar; en wat gaan gebeur, het lankal gebeur. God haal weer na vore wat verby is. Verder het ek onder die son gesien: Die plek van die reg – daar was onreg; ja, die plek van geregtigheid – daar was onreg! Ek het in my hart gesê: God sal die regverdige en die goddelose oordeel oor elke optrede daar, want daar is 'n tyd vir elke saak.
Lees Prediker 3
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Prediker 3:1-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's