Prediker 3

3
Gedigte oor tyd en gebeurtenisse
1 Vir alles is daar 'n vasgestelde tyd;
daar is 'n tyd vir elke saak
onder die hemel:
2 'n tyd om geboorte te gee
en 'n tyd om te sterf;
'n tyd om te plant
en 'n tyd om uit te trek
wat geplant is;
3'n tyd om 'n lewe te neem
en 'n tyd om te genees;
'n tyd om af te breek
en 'n tyd om op te bou;
4'n tyd om te huil
en 'n tyd om te lag;
'n tyd om te rou
en 'n tyd om te dans;
5'n tyd om klippe weg te gooi
en 'n tyd om klippe
bymekaar te maak;
'n tyd om te omhels
en 'n tyd om ver te wees
van omhelsing;
6'n tyd om te soek
en 'n tyd om te laat wegraak;
'n tyd om te bewaar
en 'n tyd om weg te gooi;
7'n tyd om te skeur
en 'n tyd om toe te werk;
'n tyd om stil te bly
en 'n tyd om te praat;
8'n tyd om lief te hê
en 'n tyd om te haat;
'n tyd van oorlog
en 'n tyd van vrede.
9 Watter voordeel het die een
wat werk van dit waarmee
hy hom afsloof?
10 Ek het die taak gesien
wat God aan mense gegee het
om hulle mee te belas.
11Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd.
Hy het ook die besef van tydsduur
in hulle harte gegee,
sonder dat die mens enigsins
die werk wat God van begin
tot einde doen, kan peil.
12Ek het besef dat daar tussen hulle
niks beter is nie
as om vreugde te ervaar
en die goeie te geniet
in die lewe –
13 ja, elke mens –
dat hy eet en drink
en die goeie geniet
by al sy inspanning.
Dit is 'n gawe van God.
14Ek het besef dat alles
wat God doen,
vir altyd sal bestaan.
Daaraan kan niks
toegevoeg word nie,
en daarvan kan niks
weggeneem word nie.
God het dit gedoen
sodat hulle ontsag
vir Hom sal hê.
15 Wat ook al gebeur het,
was lankal daar;
en wat gaan gebeur,
het lankal gebeur.
God haal weer na vore
wat verby is.
16 Verder het ek onder die son gesien:
Die plek van die reg –
daar was onreg;
ja, die plek van geregtigheid –
daar was onreg!
17Ek het in my hart gesê:
God sal die regverdige
en die goddelose oordeel
oor elke optrede daar,
want daar is 'n tyd vir elke saak.
18 Ek het in my hart gesê:
Wat mense betref –
God toets hulle sodat hulle
kan insien dat hulle self diere is.
19Want die lot van mense
en die lot van diere –
vir hulle is daar net een lot.
Soos die een sterf,
so sterf die ander –
hulle het almal dieselfde lewensasem.
'n Voordeel van die mens
bo die dier bestaan nie,
want alles is sinloos.
20Alles gaan na een plek toe.
Alles kom uit die stof
en alles keer terug na die stof.
21Wie weet of dit die lewensasem
van mense is wat na bo styg,
en of dit die lewensasem
van diere is wat na onder daal,
na die grond?
22Ek het gesien dat daar niks beter
is nie as dat die mens
vreugde vind in sy werk,
want dit is sy beloning.
Ja, wie kan hom daartoe bring
om te sien wat ná hom sal gebeur?

Tans Gekies:

Prediker 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan