Die man het my teruggeneem na die ingang van die •tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. Hy het my deur die noordelike poort uitgeneem en my buite-om laat gaan na die buitepoort wat oos front. Kyk, water het uitgeborrel aan die regterkant. Toe die man in 'n oostelike rigting wegstap, was daar 'n maatlyn in sy hand. Hy het duisend el afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat enkeldiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat kniediep was. Hy het duisend el afgemeet en my laat oorsteek – water wat heupdiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet – 'n stroom wat ek nie kon oorsteek nie. Ja, die water het gestyg – water waarin 'n mens kon swem, 'n stroom wat nie oorgesteek kon word nie. Hy het vir my gevra: “Sien jy dit, mensekind?” Hy het my weer na die stroom se wal laat terugkeer. Toe ek weer terug is daar, kyk, toe is daar op die stroom se walle 'n groot aantal bome, aan albei kante. Die man sê toe vir my: “Hierdie water vloei weg na die oostelike streek, en loop dan af na die Araba, en kom by die see uit. In die see waar dit uitvloei, word die water vars. Daar sal allerhande lewende wesens wees wat krioel – oral waar die stroom kom, sal hulle leef; en daar sal groot hoeveelhede vis wees. Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom. Daar sal vissers langs die see staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Daar sal droogmaakplekke vir sleepnette wees. Daar sal geweldig baie soorte vis wees, net soos die vis in die Groot See. “Sy moerasse en kuile sal egter nie vars word nie; vir soutontginning is dit bestem. Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.”
Lees Esegiël 47
Deel
Vergelyk alle weergawes: Esegiël 47:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's