Esra 4:1-24

Esra 4:1-24 AFR20

Toe die vyande van Juda en Benjamin hoor dat die teruggekeerde ballinge besig was om 'n •tempel vir die HERE, die God van Israel, te bou, het hulle Serubbabel en die familiehoofde genader met die versoek: “Laat ons julle help bou, want soos julle, streef ons ook die wil van julle God na. Ons bring al aan Hom offers sedert Esarhaddon, koning van Assirië, ons hierheen gebring het.” Serubbabel en Jesua en die res van die familiehoofde van Israel antwoord hulle toe: “Julle het niks met ons te doen wanneer dit kom by die bou van die huis van ons God nie, want ons alleen sal dit vir die HERE, die God van Israel bou, soos Kores, koning van Persië, ons beveel het.” Die volk van die land wou toe die volk van Juda probeer ontmoedig en hulle afskrik om te bou. Hulle het ook dwarsdeur die bewindstyd van Kores, koning van Persië, tot in die regeringstyd van Darius, koning van Persië, raadgewers teen hulle gehuur om hulle planne te verydel. Reeds aan die begin van Ahasveros se bewind het hulle 'n klagskrif teen die inwoners van Juda en Jerusalem opgestel, en in die dae van Artasasta het Bislam, Mitredat, Tabeël en die res van hulle ampsgenote aan die koning van Persië 'n brief geskryf. Dit is in •Aramees geskryf, en vertaal. In Aramees: Daarna het Regum, hoof van die koninklike verteenwoordigers, en Simsai, die sekretaris, die volgende brief aan koning Artasasta oor Jerusalem geskryf. Van Regum, hoof van die koninklike verteenwoordigers, en Simsai, die sekretaris, en ook die res van hulle ampsgenote; die regters, amptenare, Persiese gesante, verteenwoordigers van Uruk, Babiloniërs en Susa se Elamiete, en van die ander volke wat die groot en beroemde Asnappar weggevoer en in die stad Samaria laat woon het, en van die res van die mense van Wes-Eufraat. Dit is 'n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: “Aan Artasasta, die koning. Van u dienaars, die mense van Wes-Eufraat. “ Ons stel die koning in kennis dat die Judeërs wat van u af vertrek het, by ons aangekom het en in Jerusalem is. Hulle herbou daardie opstandige en slegte stad. Nadat hulle die fondamente reggemaak het, is hulle nou besig om die mure op te rig. Laat die koning dan nou weet dat, sodra daardie stad herbou is en die mure voltooi is, hulle nie meer belasting, heffings en tolgeld sal betaal nie, en dat die koning se inkomste daaronder sal ly. Aangesien ons lojaal is aan die koning en omdat dit nie vir ons reg is om te sien dat die koning se eer aangetas word nie, stuur ons hierdie brief om die koning in te lig, sodat dit in die kronieke van u voorgangers nageslaan kan word. U sal in die kronieke vind dat hierdie stad nog altyd 'n opstandige stad was wat skade veroorsaak het vir die konings en die provinsies en wat opstand in hulle midde gestook het. Dit is waarom dit vernietig is. Ons deel die koning mee dat, wanneer daardie stad herbou is en die mure voltooi is, u nie meer enige beheer oor Wes-Eufraat sal hê nie.” Die koning het toe die volgende boodskap gestuur: “Aan Regum, die hoof van die koninklike verteenwoordigers, en Simsai, die sekretaris, en die res van hulle ampsgenote wat in Samaria woon, en aan die res van die mense van Wes-Eufraat: Vrede! “ Die brief wat julle aan ons gestuur het, is vertaal en aan my voorgelees. Ek het toe opdrag gegee en ondersoek is ingestel; en daar is bevind dat daardie stad hom van altyd af teen konings verset het en dat opstand en oproer daar gestook is. Daar was al magtige konings oor Jerusalem. Hulle het oor die hele Wes-Eufraat regeer en belasting, heffings en tolgeld is aan hulle betaal. Gee daarom opdrag dat hierdie manne moet ophou werk. Daardie stad mag nie herbou word totdat ek die opdrag gee nie. Wees versigtig om nie nalatig hiermee te wees nie. Waarom moet die koning deur nog groter skade benadeel word?” Onmiddellik nadat die afskrif van die brief van koning Artasasta aan Regum en Simsai, die sekretaris, en hulle ampsgenote voorgelees is, het hulle inderhaas na Jerusalem gegaan, na die Judeërs, en hulle met mag en geweld gedwing om die werksaamhede te staak. Die werk aan die huis van die God van Jerusalem is toe gestaak tot in die tweede regeringsjaar van Darius, koning van Persië.