Jesaja 17

17
Profesieë oor Damaskus en Efraim
1 Profesie oor Damaskus.
“Kyk, Damaskus gaan ophou
om 'n stad te wees,
dit gaan 'n vervalle puinhoop word.
2 Die dorpe by Aroër is verlate –
aan veekuddes sal dit behoort.
Hulle sal daar gaan lê,
en niemand sal hulle opjaag nie.
3 Versterkte stede
sal uit Efraim verdwyn,
ook die koningskap
uit Damaskus.
Met wat van Aram oorbly,
sal dit wees soos met
die luister van die Israeliete.”
Dit is die uitspraak
van die Here, Heerser oor alle magte.
4“ Op daardie dag
sal die luister van Jakob vervaag;
sy vet aan sy liggaam sal verdwyn.
5Dit sal wees soos wanneer iemand
met die oes graanhalms insamel,
en soos wanneer iemand koringare
in sy arm bymekaarmaak.
Dit sal wees soos wanneer iemand
are optel in die vallei
van Refaïm:
6 Daar sal by Jakob oesreste oorbly.
Soos met die afslaan van olywe
sal twee of drie ryp olywe
aan die bopunt van 'n tak wees,
vier of vyf aan die lote
van 'n boom wat dra,”
is die uitspraak van die Here,
die God van Israel.
7 Op daardie dag sal die mens
opkyk na sy Maker;
sy oë sal gerig wees
op die Heilige van Israel.
8 Hulle sal nie opkyk na die altare,
na die werk van hulle hande nie;
en wat hulle vingers gemaak het,
daarna sal hulle nie kyk nie –
die asjeras en die wierookaltare.
9Op daardie dag sal Israel
se sterk stede wees
soos dié wat verlaat is
deur die Hetiete en Amoriete,
wat hulle verlaat het
vanweë die Israeliete.
'n Woesteny sal dit word,
10 omdat jy die God
wat jou verlos, vergeet het,
die Rots wat jou toevlugsoord is,
nie onthou het nie.
Daarom lê julle pragtige tuine aan,
plant julle die steggies
van 'n vreemde god.
11Die dag wanneer julle plant,
laat julle al groei;
die oggend wanneer julle saai,
laat julle al uitspruit.
Die oes sal egter verdwyn
in 'n tyd van siekte
en ongeneeslike pyn.
12Wee! Die gedreun van baie volke –
soos die dreuning van die oseane
dreun hulle.
Die gedruis van nasies –
soos die gedruis van magtige water
druis hulle.
13Ja, nasies –
soos die gedruis van magtige water,
druis hulle.
Maar Hy berispe hulle,
en hulle vlug ver weg.
Hulle word voortgedryf op die bulte
soos kaf voor die wind,
soos tolbosse voor 'n stormwind.
14Teen die aand –
kyk, daar is skielik verskrikking!
Voor die oggend
is dit nie meer daar nie!
Dit is die deel van ons plunderaars,
die lot van hulle wat ons beroof.

Tans Gekies:

Jesaja 17: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan