Jeremia 19:1-9

Jeremia 19:1-9 AFR20

So het die HERE vir my gesê: “Gaan koop 'n kruik by 'n pottebakker; van die oudstes van die volk en die oudstes van die priesters moet by wees. Gaan dan uit na die Ben-Hinnomdal by die ingang na die Potskerfpoort en verkondig daar die woorde wat Ek vir jou sê. Jy moet sê, ‘Hoor die woord van die HERE, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek, sodat elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit. Want hulle het My verlaat, hierdie plek geskend en daarin offers verbrand vir ander gode wat hulle, hulle voorouers en die konings van Juda nie geken het nie. Hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges. Hulle het offerhoogtes vir Baäl gebou om hulle seuns as brandoffers vir Baäl te verbrand – iets wat Ek nie beveel of gesê het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae,” ’ is die uitspraak van die HERE, ‘ “dat hierdie plek nie meer Tofet en Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal. Ek sal Juda en Jerusalem se planne op hierdie plek verydel; Ek sal hulle deur die swaard voor hulle vyande laat val, en deur die hand van dié wat hulle lewens soek. Ek sal hulle lyke as voedsel gee vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde. Ek sal hierdie stad 'n skrikbeeld en die rede vir 'n gefluit maak. Elkeen wat by haar verbygaan, sal verslae wees en fluit oor al haar wonde. Ek sal hulle die vleis van hulle seuns en dogters laat eet; en hulle sal mekaar se vleis eet tydens die beleg en die teistering waarmee hulle vyande en die mense wat hulle lewens soek, hulle sal teister.” ’