“ Vanaf die dertiende regeringsjaar van Josia, seun van Amon, koning van Juda, tot op hierdie dag, drie-en-twintig jaar lank, het die woord van die HERE tot my gekom. Ek het aanhoudend met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie. Die HERE het al sy dienaars, die profete, aanhoudend na julle gestuur, maar julle het nie geluister nie. Julle het nie julle ore oopgemaak om te luister nie. Die boodskap was, ‘Draai tog om, elkeen weg van sy verkeerde pad, weg van julle bose dade, sodat julle kan bly woon op die grond wat die HERE van altyd af en vir altyd aan julle en julle voorouers gegee het. Moenie agter ander gode aanloop om hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig nie! Moet My nie tart met julle handewerk nie, sodat Ek julle nie kwaad aandoen nie. Maar julle het nie na My geluister nie,’ is die uitspraak van die HERE, ‘sodat julle My getart het met julle handewerk, tot julle eie nadeel.’ Daarom, so sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Omdat julle nie na my woorde geluister het nie – kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die noorde ontbied,’ is die uitspraak van die HERE, ‘ook Nebukadresar, koning van Babilonië, my dienskneg, en Ek sal hulle bring na hierdie land en sy inwoners, en na al die omliggende nasies. Ek sal hulle met die banvloek tref, en hulle 'n skrikbeeld maak, die rede vir 'n gefluit, en puinhope vir altyd. Ek sal by hulle die klank van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geskuur van maalklippe en die lig van lampe. Hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babilonië sewentig jaar lank dien.
“ ‘Maar as die sewentig jaar verby is,’ is die uitspraak van die HERE, ‘sal Ek oor hulle sondeskuld rekenskap eis van die koning van Babilonië en van daardie nasie, en van die land van die Galdeërs. Ek sal dit vir altyd woestenye maak.