Jeremia 37

37
Jeremia se gevangenskap
1Sedekia, 'n seun van Josia, vir wie Nebukadresar, die koning van Babilonië, as koning aangestel het in die land Juda, het as koning regeer in die plek van Gonja, seun van Jojakim. 2Hy en sy dienaars en die volk van die land het egter nie geluister na die woorde van die Here wat Hy by monde van die profeet Jeremia uitgespreek het nie. 3Koning Sedekia het Jugal, seun van Selemja, en Sefanja, seun van Maäseja, die priester, met 'n boodskap na die profeet Jeremia gestuur: “Bid asseblief vir ons tot die Here ons God.” 4 Jeremia kon toe nog ongehinderd kom en gaan onder die volk; hulle het hom nog nie in die gevangenis gesit nie. 5 Die leër van die farao het uit Egipte uitgetrek en toe die Galdeërs, wat besig was om Jerusalem te beleër, berig kry daaroor, het hulle van Jerusalem af teruggetrek.
6Die woord van die Here het toe tot die profeet Jeremia gekom: 7“So sê die Here, die God van Israel, ‘So moet julle vir die koning van Juda, wat julle na My gestuur het om My te raadpleeg, sê: “Kyk, die leër van die farao wat uitgetrek het om julle te hulp te kom, sal terugkeer na hulle land, na Egipte toe. 8 Maar die Galdeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en afbrand.” ’ 9So sê die Here, ‘Moet julleself nie mislei deur te dink, die Galdeërs sal beslis van ons af weggaan, nie; want hulle sal nie gaan nie. 10Ja, al sou julle die hele leër van die Galdeërs wat teen julle oorlog voer, verslaan, en daar onder hulle net swaar gewondes oorbly, sal elkeen van hulle weer opstaan in sy tent, en hulle sal hierdie stad afbrand.’ ”
11Toe die leër van die Galdeërs van Jerusalem af teruggetrek het vanweë die leër van die farao, 12wou Jeremia uit Jerusalem vertrek om na die gebied van Benjamin te gaan, om saam met die mense daar deel te neem aan grondverdeling. 13Maar toe hy by die Benjaminpoort kom, was daar 'n bevelvoerder van die wagte met die naam Jirija, seun van Selemja, seun van Gananja. Hy het die profeet Jeremia gevange geneem en gesê: “Jy wil na die Galdeërs oorloop!” 14Maar Jeremia het gesê: “Dit is nie waar nie! Ek wil nie na die Galdeërs oorloop nie.” Maar Jirija het nie na hom geluister nie, en hy het Jeremia gevange geneem en hom na die •hoë amptenare geneem. 15 Die •hoë amptenare was woedend vir Jeremia en het hom geslaan. Hulle het hom in 'n plek van aanhouding, by die huis van Jonatan, die sekretaris, geplaas, want hulle het daarvan 'n gevangenis gemaak.
16So het Jeremia in die kerker beland, in die gewelfde deel. Jeremia moes baie dae daar bly.
17 Koning Sedekia het hom laat haal. Die koning het hom in sy paleis in die geheim uitgevra; hy het gesê: “Is daar 'n woord van die Here af?” Jeremia het geantwoord: “Daar is.” Verder het hy gesê: “U sal oorgegee word in die hand van die koning van Babilonië.” 18Jeremia het ook vir koning Sedekia gevra: “Wat het ek teen u of u dienaars of hierdie volk gesondig dat julle my in die gevangenis gesit het? 19Waar is julle profete wat vir julle geprofeteer het, ‘Die koning van Babilonië sal julle nie oorval nie, en ook nie hierdie land nie?’ 20 Maar nou, my heer die koning, luister asseblief! Laat my smeekbede asseblief voor u gelê word: Moet my nie terugstuur na die huis van Jonatan, die sekretaris, nie, sodat ek nie daar sterf nie.”
21 Koning Sedekia het toe opdrag gegee, en hulle het Jeremia onder toesig gehou in die binnehof van die wagte se kwartiere. Hulle het vir hom elke dag 'n ronde brood uit die straat van die bakkers gegee, totdat al die brood van die stad op was. So het Jeremia in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly.

Tans Gekies:

Jeremia 37: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan