Daar was 'n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die •Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.” Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” Thomas, wat bekend staan as Didimus, het toe vir sy mededissipels gesê: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf. ”
Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer vyftien stadion ver, en baie van die Jode het na Martha en Maria gekom om hulle oor hulle broer te troos. Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.