Johannes 12:12-19

Johannes 12:12-19 AFR20

Die volgende dag het die groot skare wat vir die fees gekom het, en wat gehoor het dat Jesus na Jerusalem kom, palmtakke gevat en Hom tegemoetgegaan en aanhoudend uitgeroep, “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” en: “Die Koning van Israel!” En Jesus het 'n jong donkie gekry en daarop gaan sit, soos daar geskryf staan: “Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom, Hy sit op 'n donkievul.” Hierdie dinge het sy dissipels eers nie verstaan nie, maar toe Jesus verheerlik is, het hulle onthou dat hierdie dinge oor Hom geskryf staan, en dat hulle dit vir Hom gedoen het. Die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het daarvan getuig. Die rede waarom die skare Hom tegemoetgegaan het, was omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie teken gedoen het. Daarop het die •Fariseërs vir mekaar gesê: “Sien julle dat julle niks bereik nie! Kyk, die hele wêreld loop agter hom aan! ”

Video vir Johannes 12:12-19