Job 20

20
Sofar se tweede betoog
1 Sofar uit Naäma het hierop gereageer en gesê:
2“My verontrustende gedagtes
laat my dan nou antwoord,
op grond van die ongeduld in my:
3'n Teregwysing wat my verneder,
moes ek aanhoor;
hy antwoord my met 'n gesindheid
buite my begrip.
4Dit weet jy tog:
Van die vroegste tye af,
vandat God die mens op aarde
geplaas het,
5 is die gejuig van goddeloses
van korte duur,
en die vreugde van 'n godlose
net vir 'n oomblik.
6Al styg sy selfverheffing
ten hemele,
en raak sy kop aan die wolke,
7soos sy eie ontlasting
gaan hy vir altyd tot niet;
dié wat hom gesien het,
sal vra, ‘Waar is hy?’
8 Soos 'n droom vlieg hy weg,
sonder om weer gevind te word;
hy word verdryf soos 'n naggesig.
9Die oog wat hom raakgesien het,
sien hom nie meer nie,
en sy plek merk hom
nie meer op nie.
10Sy kinders moet die armes
vergoed;
sy eie hande gee sy rykdom terug.
11Sy liggaam was vol
van sy jeugdige krag,
maar saam met hom
lê dit in die stof.
12“ Al smaak die kwaad soet
in sy mond,
al steek hy dit onder sy tong weg,
13al gaar hy dit op
en gee dit nie prys nie;
al hou hy dit terug in sy mond,
14word sy kos in sy ingewande
verander;
dit is die gif van kobras
in sy binneste.
15 Die rykdom wat hy ingesluk het,
sal hy opgooi;
God sal dit uit sy maag dryf.
16Die gif van kobras suig hy op,
die tong van 'n adder
maak hom dood.
17 Laat hy nie met vreugde kyk
na die spruite, na die riviere,
die strome heuning en dikmelk nie.
18Wat moeisaam verwerf is,
gee hy telkens terug;
hy sluk dit nie in nie.
Sy handelswins sal hy nie geniet nie,
19omdat hy armes mishandel het,
hulle in die steek gelaat het;
op huise wat hy nie gebou het nie,
het hy beslag gelê.
20Omdat sy maag nie tevredenheid
ken nie,
sal hy nie met sy kosbaarhede
wegkom nie.
21Niks ontkom aan sy vraatsug nie;
daarom sal sy voorspoed nie duur nie.
22Ten spyte van al sy oorvloed
raak hy in die noute;
die volle krag van teenspoed
kom op hom af.
23 Om sy maag vol te maak,
stuur God sy brandende toorn
teen hom,
Hy laat dit op hom neerreën,
op sy liggaam.
24 Vlug hy weg van ysterwapens,
deurboor 'n bronspyl hom.
25Hy trek dit uit;
en kom dit uit sy rug uit,
blink dit van sy gal.
Skrikbeelde oorval hom dan.
26 Volledige duisternis lê gereed
vir wat hy weggesit het;
'n vuur wat nie aangeblaas is nie,
sal dit verteer.
Oorlewendes in sy tent
kom sleg daarvan af.
27Die hemel ontbloot sy sondeskuld,
en die aarde kom teen hom
in opstand.
28Vloedwaters sal sy huis wegvoer,
waterstrome op die dag
van God se toorn.
29 Van God se kant af
is dít die erfdeel
van 'n goddelose mens,
die erfenis deur God
aan hom toegesê.”

Tans Gekies:

Job 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan