Job 21

21
Job se antwoord op Sofar se tweede betoog
1Job het hierop gereageer en gesê:
2“Luister goed na my woorde –
dit sal julle vertroosting aan my wees.
3Verdra my nou, ek sal praat;
as ek klaar gepraat het,
kan jy verder spot.
4“Is ek die een wat my klagte teen 'n mens rig?
En waarom mag ek dan
nie ongeduldig wees nie?
5As julle aan my aandag skenk,
sal julle verbyster wees,
en julle hande voor julle monde hou.
6As ek daaraan dink, is ek ontsteld
en trek 'n siddering deur my lyf.
7 Waarom bly goddeloses aan die lewe?
Waarom word hulle oud,
groei hulle mag selfs?
8Hulle nageslag is bestendig
in hulle teenwoordigheid, by hulle;
hulle nakomelinge is daar voor hulle oë.
9Hulle huise is veilig,
sonder verskrikking;
en die roede van God
is nie op hulle nie.
10Hulle bulle dek die koeie
sonder om te faal,
hulle koeie kalf
en het nie misgeboortes nie.
11Hulle laat hulle seuntjies toe
om rond te loop soos kleinvee;
hulle kinders huppel rond.
12 Begelei deur tamboeryne en liere sing hulle;
hulle is vrolik as hulle die klank van fluite hoor.
13Hulle eindig hulle lewensjare in voorspoed,
en gaan rustig af na die •doderyk.
14 Hulle sê vir God,
‘Bly weg van ons af!
Om u paaie te ken, pas ons nie.
15 Wie is die Almagtige nou eintlik
dat ons Hom moet dien?
En wat baat dit ons as ons biddend
by Hom pleit?’
16 Kyk, hulle voorspoed
is nie in hulle eie hande nie;
die planne van goddeloses
is ver van my.
17 Hoe dikwels word die lamp
van goddeloses uitgedoof
en oorval teenspoed hulle,
die verwoesting wat Hy
in sy toorn uitdeel?
18 Word hulle soos strooihalms voor die wind,
soos kaf wat deur 'n stormwind weggedra word?
19Julle sê,
‘God spaar sy onheil
vir iemand se kinders.’
Hy moet dit liewer
aan die persoon self vergeld,
sodat hy dit beleef.
20Sy oë moet sy ondergang sien,
van die Almagtige se woede moet hy drink.
21 Wat gee hy immers om vir sy huisgesin ná hom
wanneer die getal van sy maande
tot 'n einde gekom het?
22 Sal hy dan aan God kennis
kan meedeel,
terwyl God selfs hulle wat verhewe is, oordeel?
23Een persoon sterf terwyl hy
oor al sy kragte beskik –
heeltemal onverstoord en sorgeloos,
24 met sy emmers vol melk,
en sy beenmurg vogtig.
25'n Ander persoon sterf
met 'n verbitterde siel,
sonder dat hy voorspoed gesmaak het.
26 Saam lê hulle in die stof,
en die maaiers bedek hulle albei.
27“Kyk, ek ken julle gedagtes,
die versinsels waarmee julle
my geweld aandoen.
28As julle sê,
‘Waar is die huis
van vooraanstaandes?
Waar is die tentwonings
van goddeloses? ’
29het julle nie by reisigers
navraag gedoen
en op hulle tekens ag geslaan nie?
30 Ja, op die dag van teenspoed
word 'n bose mens gespaar;
op die dag van woedebuie
word hy veilig gelei.
31Wie sal hom sy optrede openlik verwyt?
En wat hy aangevang het –
wie gaan hom daarvoor vergeld?
32Hy egter, word na die graf
geneem;
en oor sy graf hou iemand wag.
33Die kluite van die skag
is vir hom soet.
Alle mense sal hom volg,
en dié wat hom voorafgegaan het,
is ontelbaar.
34Hoe kan julle my troos met nietigheid?
Julle antwoorde kom uiteindelik neer op ontrou!”

Tans Gekies:

Job 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan