Lukas 22:1-53

Lukas 22:1-53 AFR20

Dit was amper tyd vir die Fees van die Ongesuurde Brood, bekend as die Pasga. Die leierpriesters en die skrifkenners het bly soek na 'n geskikte manier om Hom dood te maak, omdat hulle bang was vir die volk. Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is, een van die twaalf, ingevaar. Hy het weggegaan en met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag onderhandel oor hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. Hulle was bly, en het afgespreek om hom geld te gee. Hy het ingestem, en aanhou soek na 'n gepaste geleentheid om Hom aan hulle oor te lewer in die afwesigheid van die skare. Die dag van die Ongesuurde Brood, waarop die Pasgalam geslag moes word, het aangebreek. Jesus stuur toe vir •Petrus en Johannes, met die woorde: “Gaan berei vir ons die Pasga voor, sodat ons dit kan eet.” Hulle het vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons voorbereidings tref?” En Hy antwoord hulle: “Kyk, sodra julle die stad binnegaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle tegemoetkom. Volg hom na die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra u: “Waar is die gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?” ’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig is. Daar moet julle voorbereidings tref.” Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Toe die uur aanbreek, het Hy en die •apostels saam met Hom vir ete aangeleun. Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die •koninkryk van God nie. ” Daarna het Hy 'n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker, wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. Maar kyk, die hand van die een wat My gaan verraai, is saam met My aan tafel. Want met die •Seun van die Mens sal dit gaan soos wat dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word.” Hulle het mekaar toe begin afvra wie van hulle dit tog sou wees wat so iets sou doen. Daar het toe 'n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien. “Julle is die mense wat deur al my beproewinge steeds by My gebly het. Ek bemaak aan julle 'n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel. ” “Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.” Maar Jesus sê: “Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie. ” Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” “Niks nie!” antwoord hulle. Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter 'n beursie besit, moet dit saamneem, en so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet sy bokleed verkoop en een koop. Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.” Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg.” Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het toe 'n entjie van hulle af weggestap, ongeveer 'n klipgooi ver, gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. ” Daar het 'n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. ” Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik 'n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met 'n soen dat jy die •Seun van die Mens oorlewer?” Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval? ” Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen 'n rower? Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie 'n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis. ”