LUKAS 22:1-53

LUKAS 22:1-53 AFR83

Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om dit te doen. Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar. Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom. Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal. Hy het ingestem en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie. Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.” Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?” Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.” Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei. Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.” Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.” Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!” Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen. Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien. “Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. Net soos my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan julle, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.” “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.” Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.” Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?” “Nee, niks nie!” was hulle antwoord. Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.” Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” “Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle. Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val. Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?” Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees. Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”