Lukas 8:40-56

Lukas 8:40-56 AFR20

Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het. Kyk, daar kom toe 'n man aan met die naam Jaïrus. Hy was 'n leier van die •sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom, omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. Onder hulle was daar 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak – en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het •Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.” Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede! ” Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en vir hom gesê: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net, en sy sal gered word.” Toe Jesus by die huis aankom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus, en die kind se vader en moeder. Almal het gehuil en gerou oor haar. Maar Jesus het gesê: “Moenie huil nie, want sy het nie gesterf nie, maar slaap net.” Hulle het Hom egter uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy gesterf het. Maar Jesus het haar aan die hand geneem en uitgeroep: “Meisie, word wakker!” Haar gees het teruggekeer, en sy het dadelik opgestaan. Jesus het beveel dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was oorstelp van blydskap, maar Jesus het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.