Matteus 19:6-21
Matteus 19:6-21 AFR20
sodat hulle nie meer twee is nie, maar een liggaam. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Toe vra hulle Hom: “Waarom het Moses dan bepaal dat 'n man sy vrou 'n skeibrief moet gee om sodoende van haar te skei?” Hy antwoord hulle: “Moses het julle weens julle harde harte toegelaat om van julle vroue te skei, maar van die begin af was dit nie so nie. Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met 'n ander trou, egbreuk pleeg.” Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit die stand van sake tussen man en vrou is, is dit beter om nie te trou nie. ” Hy het egter vir hulle gesê: “Nie almal kan hierdie saak begryp nie – slegs hulle aan wie dit gegee is. Daar is inderdaad eunugs wat so gebore is, daar is eunugs wat deur mense so gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself so gemaak het ter wille van die •koninkryk van die hemele. Laat enigeen wat kan, dit begryp.” Toe is kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle bid. Maar die dissipels het hulle berispe. Jesus het egter gesê: “Laat die kindertjies begaan, en moet hulle nie langer verhinder om na My te kom nie, want die •koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.” Hy het hulle toe die hande opgelê en daarvandaan vertrek. En kyk, iemand het na Jesus gekom en gevra: “Meester, watter goeie ding moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan verkry?” Hy het hom geantwoord: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. As jy die lewe wil binnegaan, moet jy die gebooie nakom. ” Hy vra Hom: “Watter?” Jesus antwoord: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie, eer jou vader en jou moeder,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” Die jong man sê vir Hom: “Dit alles het ek nagekom – wat kom ek dan nog kort?” Jesus het vir hom gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.”





