Numeri 18:2-10

Numeri 18:2-10 AFR20

Laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, sodat hulle by jou kan aansluit en jou kan bystaan waar jy en jou seuns saam met jou voor die tent met die Getuienis is. Hulle moet van jou verpligtinge nakom, en ook verpligtinge in verband met die hele •tabernakel. Maar naby voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, sodat hulle nie sterf nie – nie hulle nie, en ook nie julle nie. Hulle moet by jou aansluit en die verpligtinge by die Tent van Ontmoeting nakom, ja, al die werk by die tent. Maar 'n onbevoegde persoon mag nie naby julle kom nie. Julle moet die verpligtinge by die heiligdom en die altaar nakom, sodat die Israeliete nie weer deur 'n oordeel uit toorn getref word nie. Wat My betref, kyk, Ek het julle broers, die Leviete, uit die Israeliete geneem as 'n geskenk vir julle. Hulle is aan die HERE afgestaan om die werk by die Tent van Ontmoeting te doen. Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesterdiens nakom, in alle sake by die altaar en agter die voorhangsel. Daar moet julle diens doen. As 'n geskenk met die oog op dienslewering gee Ek julle priesterskap aan julle. Maar 'n onbevoegde persoon wat daar indring, moet doodgemaak word.” Die HERE het vir Aäron gesê: “Wat My betref, kyk, Ek het aan jou die verpligting in verband met my •wydingsgeskenke toevertrou. Al die •heilige gawes van die Israeliete – aan jou en aan jou seuns gee Ek dit as 'n geskenk, as 'n deel wat hulle altyd moet kry. Die volgende van die •besonder heilige gawes, dit wat nie verbrand word nie, is wat jou toekom: al hulle offers – al hulle •graanoffers, al hulle •reinigingsoffers en al hulle •hersteloffers wat hulle vir My bring. Die besonder heilige gawes kom jou en jou seuns toe. Op 'n besonder heilige plek moet jy dit eet. Elke manspersoon mag dit eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees.